Central SA
Transitorowers in Vrede voorgekeer, in hegtenis geneem─── ZENANDE MPAME 12:59 Wed, 08 Nov 2023

“Ons sal aanhou soek na hierdie misdadigers. Dis hulle en ons, en dis 'n stryd wat ons nie bereid is om te verloor nie.”
'n Swaar gewapende bende is Dinsdag (7/11) op Vrede in die Noord-Vrystaat aangekeer toe hulle na bewering op pad was na KwaZulu-Natal om ’n transitoroof te pleeg.
Die polisie het gereageer op ’n wenk oor die beplande rooftog. ’n Skietgeveg het tussen die polisie en die verdagtes ontstaan. “Ongelukkig is ’n 40-jarige veiligheidswag doodgeskiet,” sê Fannie Masemola, nasionale polisiekommissaris.
Genl. Fannie Masemola, polisiekommissaris, sê hulle is op die spoor van die verdagtes wat gevlug het. Foto: SAPD
Die verdagtes was onderweg in ’n Dodge, wat omgeslaan het toe die skietery losbars. Later is ontdek die voertuig is gekaap in Wierdabrug, Centurion. Die polisie het ’n AK47- en ’n R5-aanvalsgeweer met meer as 240 rondtes hoëkaliber-ammunisie teruggevind.
Nog drie verdagtes is op Memel, sowat 52 km van Vrede, in hegtenis geneem. Ander het daarin geslaag om weg te kom.
Die Dodge het omgeslaan nadat ’n skietgeveg ontstaan het. Foto: SAPD
“ ’n Soektog is sedertdien van stapel gestuur na diegene wat gevlug het, twee Mercedes-Benz-sedans is teruggevind en een is reeds as gesteel aangemeld.
“Ons lede is slaggereed om voorvalle van ernstige en geweldsmisdaad, veral roof met verswarende omstandighede, te voorkom en te bekamp,” sê Masemola.
OFM News/Zenande Mpame Corné/Daphné/Morné