Central SA
Honde-aanval: Potch-vrou se saak weer uitgestel─── ZENANDE MPAME 14:24 Wed, 08 Nov 2023
“Dit is baie duur om van Bloemhof na Potchefstroom te ry. Dit kos ons ongeveer R3 000 heen en weer.”
’n Egpaar van Potchefstroom wat van nalatigheid aangekla word, het vergeef ’n hek na die hof gebring nadat hul saak tot 9 en 10 Januarie 2024 uitgestel is.
Die egpaar se drie veghonde het hul huiswerker, Dipuo Kokolosi (48), se gesig in Januarie 2022 geskend. Sy het ook ander bytwonde opgdoen. Die saak is Maandag (6/11) weer uitgestel omdat die hof se opnametoestel onklaar was.

Chandré Mostert (middel) en Marno Mostert (regs) saam met hul regsverteenwoordiger, Anei de Waal, buite Potchefstroom se stadsaal. Foto: Wouter Pienaar/Potchefstroom Herald
“ ’n Opname van verrigtinge in ’n hof is uiters belangrik om ’n akkurate rekord te hê in geval van ’n daaropvolgende hersiening of ’n appèl,” sê Johan Nortjé, ’n regskenner. “ ’n Regter sal nie kan bepaal of die verrigtinge in die hof billik was in hersieningsverrigtinge of korrek was vir ’n appèl sonder om die rekord te hê nie.”
Kokolosi moes verskeie gesigoperasies ondergaan ná die aanval. Sy en haar familie was teleurgesteld en kwaad toe hulle by die hof kom en die saak weer uitgestel word.
“Hierdie saak duur nou al twee jaar en ons is baie ontevrede dat dit uitgestel is,” het Joseph Modise, Kokolosi se broer wat haar Maandag (6/11) na die hof vergesel het, gesê. “Dis baie duur om van Bloemhof na Potchefstroom te ry. Dit kos ons ongeveer R3 000 heen en weer.”
Netwerk24 berig Marno Mostert het hul palissadehek gevat en dit in hul motor gelaai toe die verhoor uitgestel is.

Van links: Lerato Kokolosi (niggie), Patricia Modise (dogter), Dipuo Kokolosi en Joseph Modise (broer). Foto: Wouter Pienaar/Potchefstroom Herald
Die Mostert-egpaar se prokureur wil ’n deskundige inroep om te getuig oor die sluitmeganisme van die hek omdat hulle nie verstaan hoe die honde uitgekom het nie, berig Netwerk24.
Kokolosi moet op 15 Januarie weer geopereer word, dié keer om haar neus kosmeties te herstel. Modise sê die herstelproses sal twee tot drie weke neem.
OFM Nuus/Zenande Mpame Daphné/Corné/Morné
