Central SA
3 verdagtes in Maart gevonnis vir grusame gay moord in Potch─── ZENANDE MPAME 14:03 Fri, 10 Nov 2023
“Die drie staan tereg op aanklagte van roof met verswarende omstandighede, ontvoering, opsetlike saakbeskadiging en regsverydeling.”
Die drie beskuldigdes in die wrede moord op ’n queer aktivis word na verwagting drie jaar en twee maande ná sy dood op 4 Maart in die Ga-Rankuwa-streekhof gevonnis, nadat dit vanaf die aanvanklike datum van Donderdag (2/11) uitgestel is.
Sam Mbatha se verkoolde liggaam is op 10 Januarie 2021 in ’n uitgebrande voertuig naby ’n sokkerveld in Ikageng, Potchefstroom, gevind.
“Die dood van Sam het as ’n groot skok vir die instelling gekom en dit is omdat ons hom baie goed geken het, hy was een van ons studenteleiers voordat hy 'n personeellid geword het. Hy was op die Mahikeng-kampus gevestig,”sê Robert Balfour, NWU se adjunk-visekanselier.

Robert Balfour esê sy dood het as ’n skok vir die instelling gekom. Foto: nwu.ac.za
“Die universiteit het groot simpatie met die familie betuig omdat (emosionele) afsluiting nie moontlik was nie aangesien die bevindings van die moordsaak 'n jaar geneem het om af te handel, weens die DNS-verifikasie.”
Die beskuldigdes is Arthur Khoza (19), Mahlatsi Nkuna (21) en Thato Mosetla (22). Hulle is in hegtenis geneem ná ’n intensiewe ondersoek deur die polisie wat hulle met die moord op Mbatha verbind.
“Die polisie het bloedvlekke in die verdagtes se huis gevind, ‘n byl, wat vermoedelik tydens die moord gebruik is op die dak van die huis, en DNS-monsters wat Mbatha positief as die oorledene geïdentifiseer het,” sê Henry Mamothame, NVG-woordvoerder in Noordwes.

Die vermoorde aktivis Sam Mbatha se verkoolde lyk is in sy motor gevind. Foto: sabcnews
Pretoria Rekord het berig dat Mosetla borgtog op 7 Julie 2022 geweier is nadat hy dit aanvanklik laat vaar het ná sy inhegtenisneming. Intussen is Khoza en Nkuna uit op borgtog van R500 elk.
OFM Nuus/Zenande Mpame Morné/Corné/Daphné
