Central SA
Gemeenskap dra klein kankerlyer van Kroonstad─── HEIDRÈ MALGAS 15:24 Fri, 10 Nov 2023
“Dit beteken vir ons só baie om te weet dat almal saam vir Ilya intree en wanneer sy vra: ‘Hoeveel mense bid vir my?’ kan ek sê: ‘So baie, my liefie.’”
Ilya van den Berg (5) wie met leukemia gediagnoseer is sterk goed aan weens die ondersteuning van familie, vriende en veral die breë gemeenskap van Kroonstad.
Haar ma, Zuna-Marie van den Berg, sê Ilya sal vir twee tot drie jaar behandeling moet ontvang. Sy kry tans elke Maandag, Woensdag en Vrydag chemoterapie, onder meer rooi chemo, ’n intense behandeling wat die ontvanger siek en moeg maak.
‘Alles moet streng gemonitor word’
“Sy kry weekliks ’n beenmurgbiopsie, gereeld bloedtoetse en selfs nou en dan ’n lumbar punch. Dit gee ’n idee van hoe effektief die behandeling is en of daar aanpassings gemaak moet word,” sê van den Berg.
Sy sê die bloedtoetse gee ook ’n idee van wanneer sy bloed of plaatjies nodig het. “Alles moet streng gemonitor word, veral omdat haar immuniteit ook nou so laag is. Dit is maar ’n lang pad na herstel.

Ilya van den Berg is moeg ná die behandeling, maar sy stry dapper voort. Fotosamestelling verskaf
“Die dokters het Woensdag (8/11) net ’n lumbar gedoen om die chemo in te spuit. So daar is nie beenmurguitslae dié keer nie. Die bloed het egter gewys dat haar plaatjies natuurlik op is van 23 na 167, waarvoor ons dankbaar is.”
Seugnet Oelofse, eienaar van The Growing Tree waar Ilya skoolgaan, het bygevoeg dat die gemeenskap baie goed vir Ilya is. Die kindertjies by haar skool was bekommerd omdat Ilya so lank van die skool af weg was. Sy het toe vir hulle ‘n boek, Cara Krimpvark verloor haar pennetjies, gelees om vir hulle te verduidelik oor Ilya se kondisie.
‘Hoeveel mense bid vir my?‘
Van den Berg sê “dit beteken vir ons só baie om te weet dat almal saam vir Ilya intree, en wanneer sy vra: ‘Hoeveel mense bid vir my?‘ wat sy gereeld doen, kan ek haar vol vertroue antwoord en sê: ‘Só baie, my liefie, meer as wat ons van weet.’”
Oelofse sê hulle het vreeslik baie donasies ontvang om haar ouers te help.
OFM Nuus/Heidrè Malgas Morné
