On Now
Weekdays 19:00 - 22:00
OFM Nights Ashmund
Show Background
NEXT: 22:00 - 23:59 Overnight with OFM
Listen Live Streams

Central SA

Vrou skenk nier en gee haar man tweede kans op lewe

───   TSHEHLA KOTELI 21:50 Mon, 13 Nov 2023

Vrou skenk nier en gee haar man tweede kans op lewe | News Article

“My vrou is ’n engel. Sy is so ongelooflik. Sy het my uiteindelik die geskenk van die lewe gegee. Ek is ongelooflik geseënd. My liefde vir haar strek na die maan en terug.”

Thabo Michael Mvalo (32) herstel by die huis nadat sy vrou, Judith Mvalo (32), haar nier geskenk het om hom ’n tweede kans op die lewe te gee.

Mondli Mvambi, woordvoerder van die Departement van Gesondheid in die Vrystaat, sê Thabo het meer as vyf jaar met ’n niersiekte gesukkel voordat sy vrou tot sy redding gekom het. Aanvanklik was sy broer veronderstel om vir hom ’n nier te skenk. Die broer was die perfekte skenker, hy het al die toetse geslaag, maar nie die laaste een nie. “Dit is toe dat Judith besluit het om vir Thabo een van haar niere te gee.”

In 'n mediaverklaring word verduidelik hoe verheug hy was toe sy vrou die besluit geneem het, asook hoe dapper hy dink sy was. Hy het sedert 2018 aan nierversaking gely en sou vir die res van sy lewe dialise moes kry. 

Thabo Mvalo in die Universitas-hospitaal. Foto verskaf

Mvalo is ’n soldaat by die militêre basis in Kimberley en sy oorplantingsoperasie is by die Universitas Akademiese Hospitaal in Bloemfontein gedoen.  “Ek is by die huis saam met my gesin. En ek is springlewendig nadat ek ’n lewensreddende nier ontvang het. Ek is bly die oorplanting was suksesvol,” sê hy. 

Hy het die Vrystaatse Departement van Gesondheid en die mediese span en dokters bedank. “Uit die diepte van my hart wil ek in die openbaar vir dr. Feziwe Bisiwe en die ongelooflike multidissiplinêre span dokters bedank wat gedurende die hele proses saam met haar gewerk het. Hulle het wonderlike werk gedoen voor en ná die operasie.”

Thabo Mvalo kry ná vyf jaar met  nierprobleme ’n tweede kans op lewe. Foto verskaf

Hy het ook sy dankbaarheid teenoor sy kollegas, familie en vriende uitgespreek wat deur dik en dun vir hom daar was. Hy is ook ’n pa van ’n sewejarige seun en ’n tweejarige dogter.  “Ek was absoluut gesond totdat ek dié dag by die werk ineengestort het. Ek is na die hospitaal geneem waar nierversaking by my gediagnoseer is.”

“Die dokters het vir my gesê dat albei my niere opgehou het om te funksioneer. My lewe was nog nooit dieselfde sedert daardie noodlottige dag nie. Ek was voor die operasie in en uit die hospitaal vir dialise. Maar 'n oorplantingsoperasie het my lewe inderdaad verander. Ek leef weer ’n normale lewe.”

OFM Nuus/Tshehla Koteli  Corné/Daphné

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.