Central SA
6 swaar gewapende, vermeende transitorowers in Vrystaat aangekeer─── ZENANDE MPAME 10:41 Tue, 14 Nov 2023

“Die verdagtes is in besit van vuurwapens en kontant gevind wat vermoedelik tydens die rooftog gesteel is.”
Die verdagtes, tussen 35 en 45 jaar oud, is gister naby Bothaville in hegtenis geneem ná ’n transitorooftog in Hamilton, Bloemfontein.
“Al dle verdagtes sal na verwagting Woensdag (15/11) in die landdroshof in Bloemfontein verskyn vir roof, poging tot moord, onwettige besit van vuurwapens en die besit van vermoedelik gesteelde geld,” sê Christopher Singo, Valke-woordvoerder van die Vrystaat.
Die ses verdagtes in 'n silwer Mercedes-Benz het 'n kontantafleweringswa gestop, veiligheidswagte ontwapen en toe met 'n onbekende bedrag geld gevlug.
Daar is drie skote op die Batho sigbare polisiëringseenheid se voertuig gevuur. Foto: Lucky Nkuyane
Die transitorooftog het op die hoek van Mill- en Vooruitsigstraat in Bloemfontein plaasgevind. Dit is net om die draai van OR Tamboweg of Kerkstraat.
OFM Nuus het vroeër berig daar is drie skote gevuur op ’n polisievangwa van die Batho sigbare polisiëringseenheid. Twee skote is deur die voorruit en een het die enjinkap getref. Gelukkig is die bestuurder ongedeerd.
’n Video wys die beseerde veiligheidswag ná die transitorooftog in Bloemfontein:
Lede van die Welkom-blitspatrollie, Welkom K9-eenheid, Allanridge SAPD, Bothaville SAPD, en 'n private veiligheidsmaatskappy het saamgewerk en hul hulpbronne gekoördineer om ’n vinnige reaksie en inhegtenisnemings te doen.
Die Valke gaan voort met verdere ondersoeke.
OFM News/ Zenande Mpame Daphné