Central SA
Leon van Nierop bespreek 'Duiwelsroos' in Bloemfontein─── ELSABÉ DE JAGER 08:32 Wed, 15 Nov 2023
“Ek het as jong laaitie vir die eerste keer met Leon se werk kennis gemaak. Hy is ’n ongelooflike ou en vrygewig met sy kennis.”
Fanie Viljoen, bekroonde kinderboekskrywer, ook skrywer van radiodramas en nie-fiksie, sê hy het by Leon van Nierop geleer hoe om ’n storie op die régte manier te skryf. Dié twee skrywers tree Saterdag by die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein in gesprek met mekaar oor Duiwelsroos, Van Nierop se jongste boek.
Van Nierop se penvloeisels is altyd vol kinkels en verrassings. Op ’n vraag, wat hy persoonlik sal beskou as sy grootste kinkel of verrassing in sy skryfwerk tot dusver, antwoord hy sonder aarseling. Die grootste verrassing wat hy deur sy hele skrywersloopbaan vir homself besorg het, sê hy, is ’n kinkel in Duiwelsroos, wat ook geheel en al onvoorspelbaar was vir elke leser wat die boek reeds gelees het. Nie eens die uitgewer kon die moordenaar voorspel nie, lag hy.

Leon van Nierop se jongste boek is Duiwelsroos. Foto verskaf
Afgesien van die boekbespreking, word Van Nierop se hele loopbaan as skrywer ook Saterdag gevier. Hy gesels graag oor die ervarings deur al die jare wat vir hom die lekkerste was. Die skiet van die 30ste episode van die televisiereeks Daar Doer in die Fliek, wat die afgelope twee maande in Kaapstad plaasgevind het, sal hom altyd bybly. Tydens die verfilming van dié episode was hy, omring deur byna 30 medewerkers, meer as ooit bewus van die veranderinge wat daar deur die jare in die Suid-Afrikaanse rolprentbedryf plaasgevind het.
Vir Van Nierop wat vanjaar sy 70ste verjaarsdag gevier het, 36 romans die lig laat sien het en bekend is in elke huis vir sy rolprentresensies, wink die lewe steeds met nuwe verrassings en kinkels in die jare wat kom.
OFM Nuus/ Elsabé de Jager Daphné/Corné
