Central SA
OVK in Noord-Kaap hoop meer jong mense sal registreer om te stem─── 03:33 Sun, 19 Nov 2023
“My boodskap aan die jeug is dat hulle in getalle moet kom stem sodat hulle volgende jaar hul stemme kan laat hoor, en nie dán sê ‘ek wens ek het geregistreer’ nie.”
Die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) in die Noord-Kaap het sy kommer uitgespreek oor die lae persentasie jongmense wat geregistreer is om te stem.
Die kommissie het gesê hy wil minstens 10% meer van die stemgeregtigde bevolking hierdie registrasienaweek registreer, met sy teiken die jeug. Die SABC berig die OVK in die provinsie wil minstens 60 000 nuwe kiesers op sy rol hê, meestal jong mense.
“As jy na die Stats SA-syfers in 2022 kyk – minder as 40% van hierdie kategorie kiesers het geregistreer. So, ons kyk na 'n gaping van sowat 60%, en om eerlik met jou te wees, probeer ons verseker dat die grootste deel van dit waarna ons mik uit daardie ouderdomsgroep kom,” het die provinsiale bestuurder van die OVK in die Noord-Kaap, Elkin Topkin, gesê.
Die jeug het egter geskitter in hul afwesigheid by stemlokale. Die paar wat wel opgedaag het, het ’n beroep op hul maats gedoen om te registreer.
“Ek voel dit is belangrik om te registreer, want ek moet ’n sê hê. Ek wil ’n beter toekoms vir my en die jeug hê,” sê Outlwile Louw, wat vir die eerste stemgeregtig is.
“My boodskap aan die jeug is dat hulle in getalle moet kom stem sodat hulle volgende jaar hul stemme kan laat hoor, en nie dán sê ‘ek wens ek het geregistreer’ nie,” het ’n ander geregistreerde kieser Aaron Rakgwale gesê.

Daphné Mashope het ook die belangrikheid van registrasie beklemtoon. "Ek dink dit is belangrik omdat die jeug 'n sê het oor alles wat aangaan, en ook die ekonomie."
Die OVK sê hy sal hom aanhou beywer vir die jeug om te registreer. Politieke partye probeer ook soveel as moontlik ondersteuners kry om te registreer.
Hulle hoop vir 'n groot stormloop Sondag. Andersins is aanlynregistrasies ook ’n moontlikheid.
OFM Nuus Corné
