On Now
Weekdays 18:00 - 19:00
OFM Business Hour Olebogeng
Show Background
NEXT: 19:00 - 22:00 OFM Nights with Ashmund
Listen Live Streams

Central SA

Bultfontein-inwoners gewaarsku ná aanval op vermeende bendelede

───   05:23 Sun, 19 Nov 2023

Bultfontein-inwoners gewaarsku ná aanval op vermeende bendelede | News Article
Gemeenskappe moet wiele van geregtigheid laat rol.

“Mense wat vermoedelik ’n misdaad gepleeg het, moet aan die polisie oorhandig word om ’n deeglike ondersoek te doen.” – SAPD

’n Vermeende lid van ’n bende genaamd "Maroma" is in Bultfontein, Vrystaat, dood en twee ander is in die hospitaal opgeneem nadat die gemeenskap van Phahameng hulle na bewering aangerand het omdat hulle mense in die gebied glo geterroriseer en by huise ingebreek het.

SAPD-lede van die Misdaadvoorkomingseenheid was Vrydagaand besig om ’n informele woongebied te patrolleer toe hulle omstreeks 19:30 ’n klag ontvang het van gemeenskapslede wat die R700-pad versper. Met hulle aankoms was daar gemeenskapslede met sambokke en drie mans het op die grond gelê.

Die mans het veelvuldige beserings gehad nadat hulle na bewering aangerand is. Volgens getuies behoort die drie aan ’n bende genaamd "Maroma" en is hulle na bewering op heterdaad betrap terwyl hulle ’n misdaad gepleeg het.




Paramedici is na die toneel ontbied. Een van die slagoffers (24) is op die toneel dood verklaar. Die ander twee slagoffers is na 'n nabygeleë hospitaal vervoer vir mediese behandeling. ’n Saak van moord en twee aanklagte van poging tot moord is vir verdere ondersoek geregistreer.

Die waarnemende distrikspolisiekommissaris van Lejweleputswa, brigadier Envor Solomon, het ’n beroep op inwoners gedoen om nie die reg in eie hande te wil neem nie, maar die wiele van geregtigheid te laat rol. Mense wat vermoedelik ’n misdaad gepleeg het, moet aan die polisie oorhandig word om ’n deeglike ondersoek te doen, het hy gesê. Andersins kan die gemeenskap wat die reg in eie hande neem, die volle mag van die gereg verwag.

Enigiemand met inligting wat kan lei tot die inhegtenisneming van die verdagtes wat dié drie aangerand het, word versoek om speursersant Aupa Tshabalala van die Bultfontein-speurdienste (083 594 7168) te kontak of om die Stop Misdaad-nommer 08600 10111 te gebruik.

OFM Nuus/Mediaverklaring Corné

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.