On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

‘Ons het een van ons broers verloor’ – Wêreldbekerwenners

───   08:35 Tue, 21 Nov 2023

‘Ons het een van ons broers verloor’ – Wêreldbekerwenners | News Article
Francois Pienaar, destydse Springbokkaptein, en Hannes Strydom met die Webb Ellis-trofee. Foto verskaf

“Ons deel ’n hegte band as lede van die 1995-groep.”

Skok, medelye en huldeblyke stroom van oor die wêreld heen in ná die skielike heengaan van die oud-Springbokslot Hannes Strydom wat Sondagaand in ’n motorongeluk dood is.

Die voertuig waarin Hannes Strydom in die ongeluk betrokke was. Foto verskaf

Strydom (58), wat in Welkom gebore is en in Port Elizabeth (Gqeberha) skoolgegaan het, was lid van die span wat in 1995 die Wêreldbeker gewen het. Hy is die vyfde speler van dié span wat dood is ná Joost van der Westhuizen (motorneuronsiekte), Ruben Kruger (breinkanker), James Small (hartaanval) en Chester Williams (hartaanval).

Solange Soares, woordvoerder van die N4-tolkonsessie, het aan Maroela Media gesê die noodlottige ongeluk het op die N4-hoofweg tussen Kromdraai en Balmoral in Mpumalanga plaasgevind, nadat die voertuig waarin Strydom gery het, vermoedelik ’n minibustaxi van agter getref het. ’n Insittende van die taxi is ook dood. Vier ander mense is ernstig beseer.

Die minibustaxi wat ook in die ongeluk betrokke was. Foto verskaf

“Om nog een van ons broers te verloor is ’n groot slag,” sê Rudolf Straeuli, hoof van die Lions-rugbymaatskappy en ook ’n lid van die span wat die 1995-Wêreldbeker gewen het. “Ons deel 'n hegte band as lede van die 1995-groep.”

Hannes Strydom en oudpres. Nelson Mandela ná die 1995-Wêreldbekereindstryd. Foto verskaf

Strydom het 21 toetse vir die Springbokke gespeel en ook 115 keer vir die destydse Transvaal, wat later die Goue Leeus geword het, uitgedraf. Hy was 'n formidabele slotkombinasie met sy spanmaat en mede-Wêreldbekerwenner Kobus Wiese en was ook die kaptein van die Goue Leeus wat die Curriebeker-trofee in 1999 gewen het.

Ná sy rugbydae het Strydom ’n sakeman geword en was hy onder meer die eienaar van die reeks Pharma Valu-apteke in Pretoria en Johannesburg.

Een van sy werknemers, Duduzile Owaka Mwelase, het op Facebook hulde aan Strydom gebring: “Te gou weg, my werkgewer, jy het jou Pharma Value-familie onverwags verlaat. Tot ons weer ontmoet, die voormalige amabhokobhoko-speler.”

Hannes Strydom. Foto: Facebook

Strydom was in omstredenheid gewikkel oor die beweerde diefstal en onwettige verkoop van hoesstroop wat die dwelm kodeïen bevat. In ’n BizNews-onderhoud met Alec Hogg, wat enkele weke voor sy dood opgeneem is, het hy beweer “ 'n sindikaat in sy apteekbesigheid het R50 miljoen by hom gesteel en hom soos 'n skelm laat lyk”.

Die forensiese ondersoeker Paul O'Sullivan, wat saam met Strydom in die onderhoud verskyn het, sê volgens BizNews “dié lêer is nou toegemaak”.

’n Vriend, Joe van Wyk, sê op Facebook hy en Strydom het nog op die dag van sy dood planne gemaak om by mekaar uit te kom. “Ek is fine dankie. Moet maar net deur dit alles werk en my onskuld bewys,” sê Strydom in ’n WhatsApp-boodskap aan Van Wyk. “Met great awesome manne wat my ondersteun sal ek deurkom.”


Strydom word oorleef deur sy vrou, Nikolie, en drie kinders, Annalie, Hannes en Lucy.

OFM Nuus/Christine van der Westhuizen Corné


@ 2023 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.