On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Reeva se ma staan nie meer Oscar Pistorius se parool teen

───   12:53 Wed, 22 Nov 2023

Reeva se ma staan nie meer Oscar Pistorius se parool teen | News Article
Reeva Steenkamp en Oscar Pistorius. Foto: News24

Oscar Pistorius moes reeds in Maart vanjaar vir parool in aanmerking kom.

June Steenkamp, ma van die vermoorde Reeva, staan nie meer die paroolaansoek van haar dogter se moordenaar, die Paralimpiese atleet Oscar Pistorius teen nie.

Sy sal ook nie die paroolverhoor wat Vrydag by die Atteridgeville-gevangenis in Pretoria plaasvind, bywoon nie. Pistorius het die grootste deel van sy tronkstraf hier uitgedien. Hy word môre 37 jaar oud.

‘June is in rou’

Maroela Media berig volgens Steenkamp se regsverteenwoordiger Tania Koen, is sy in rou gedompel sedert haar man, Barry (80) op 14 September in sy slaap oorlede is. Hulle was aanvanklik gekant daarteen dat Pistorius op parool vrygelaat word. Reeva was hul enigste kind.

June Steenkamp. Foto: The Citizen

Koen sê Steenkamp se slagoffer-impakverslag sal in haar afwesigheid deur adv. Annadé Theart-Hofmeyr voorgelees word.

Associated Press berig dat daar nie ’n waarborg is dat Pistorius vroeër vrygelaat sal word nie. Die paroolraad neem faktore soos sy gedrag en dissiplinêre rekord in die tronk in ag, asook sy geestesgesondheid en die waarskynlikheid dat hy weer ’n misdaad sal pleeg. Hy kan op volle parool vrygelaat word of op dagparool geplaas word, waar hy toegelaat sal word om in die gemeenskap te woon en werk, maar snags na die tronk moet terugkeer.

Intussen is gebruikers op sosiale media verdeeld oor die vooruitsig dat Pistorius op parool vrygelaat kan word.

‘Mag God Reeva se familie genees’

“Mag God Reeva se familie genees. Maar hy verdien ook 'n tweede kans,” sê Motlalepule Modise, terwyl Bossie Bosman meen “mens kan seker nie vir altyd 'n martelvraat wees nie. Dalk tyd om te aanvaar en te berus daarby dat niks gaan verander nie. Mag sy vrede en berusting vind.”

Ander is minder vergewingsgesind: “Ek glo hy moes ten minste 25 jaar gesit het vir die lewe wat hy geneem het! Glo nie sy storie van 'n inbreker nie,” sê Marius Barendrecht.

Volgens verskeie nuuswebwerwe sal Pistorius onder 24 uur-polisiebeskerming wees wanneer hy uiteindelik vrygelaat word weens dreigemente teen hom.

Oscar Pistorius tydens ’n vorige hofverskyning. Foto: AP/Shiraaz Mohamed

In 2017 vir 15 jaar vir moord gevonnis

Pistorius het hom in Augustus tot die konstitusionele hof gewend wat toe beslis het dat hy reeds vroeër in aanmerking vir parool gekom het. Netwerk24 berig sy skuldigbevinding en vonnis is oor die jare verskeie kere gewysig sedert hy in September 2014 aan die skietdood van Reeva skuldig bevind is.

Sy vonnis is in 2017 tot 15 jaar, die minimum vonnis vir moord, aangepas. Die jaar en sewe maande wat hy toe agter tralies was, is in ag geneem en is daar beslis dat hy nog 13 jaar en vyf maande moes uitdien.

Die hof het egter 'n fout gemaak deur nie die tydperk in ag te neem  wat hy uitgedien het terwyl hy teen sy moordvonnis geappelleer het nie. Dit beteken dat hy in werklikheid vir parool in Maart vanjaar in aanmerking moes kom.

OFM Nuus/Christine van der Westhuizen  Daphné




@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.