On Now
Weekdays 19:00 - 22:00
OFM Nights Ashmund
Show Background
NEXT: 22:00 - 23:59 Overnight with OFM
Listen Live Streams

Central SA

Boom van liefde moet hoop bring vir Lichtenburg

───   KAREN VAN DER BERG 14:27 Wed, 22 Nov 2023

Boom van liefde moet hoop bring vir Lichtenburg  | News Article
Die boom wat uit duisende blokkies bestaan, moet hoop bring. Foto:Verskaf

"Dit is wel nie ’n Kersboom nie maar ’n boom vir liefde en hoop."

’n “Liefdesboom” wat uit duisende gehekelde blokkies bestaan en 12 m hoog is, pryk in Lichtenburg om hoop vir mense in die feestyd te bring. Dit is wel nie ’n Kersboom nie maar ’n boom vir liefde en hoop.

Mev. Elegant, die organsisasie sonder winsbejag wat deur Nadi Duvenhage en haar venoot, Minnie le Roux, bedryf word, was verantwoordelik vir die pragtige boom. Dit bestaan uit 10 794 gehekelde blokkies.  Altesaam 120 vroue van die gemeenskap het gehelp om die blokkies met wol te hekel. As die boom afgebreek word, sal daar komberse van die blokkies gemaak word wat aan kinderhuise geskenk word.

Duvenhage sê sy het die idee verlede jaar gekry toe sy in Wellington in die Wes-Kaap met vakansie was en daar ’n soortgelyke boom was. Sy het besluit hulle s'n moet hoër wees.

Die Liefdesboom is 12 m hoog. Foto verskaf

“Daar is baie meer blokkies gemaak en dit is reeds gebruik om meer as 200 voltooide komberse te maak wat ook geskenk gaan word.” Duvenhage sê hulle het redelik kopgekrap oor hoe om die boom te maak. Daar is besluit om ’n tydelike staalstruktuur te gebruik.

Le Roux sê dit was belangrik dat die boom van liefde ook hoop moet bring.

“Ons gemeenskap gaan gebuk onder water-en kragprobleme wat inwoners in geldelike verknorsings dompel. Ons het soms vir dae aaneen nie krag of water nie.” Sy sê dit was wonderlik om te sien hoe die mense kan saamstaan en almal die projek ondersteun. “Die Here is baie goed vir ons en vir die gemeenskap. Daar is nie ’n beter plek om te bly as net hier nie.”

Die boom bestaan uit 10 794 gehekelde blokkies. Foto verskaf

Mev. Elegant is 25 jaar gelede deur Le Roux begin met die doel om gesinne in nood geldelik by te staan maar ook om volhoubare ontwikkeling in die dorp in te stel.

Die boom, wat by die NG-Klipkerk gebou is, sal op Vrydag met die dorp se jaarlikse Kersfees-aandmark bekendgestel word.

OFM Nuus/Karen van der Berg   Daphné

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.