On Now
Weekends 09:00 - 12:00
The Central SA Top 30 Laurika
Show Background
NEXT: 12:00 - 16:00 Saterdag Siësta with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Welkom-mans gesoek vir beweerde verkragtings

───   KEKELETSO MOSEBETSI 14:48 Wed, 22 Nov 2023

 Welkom-mans gesoek vir beweerde verkragtings | News Article
Die Vrystaatse polisie het ’n padblokkade op die N1 buite Bloemfontein uitgevoer as deel van Operasie Shanela. Foto: Kekeletso Mosebetsi

“Voordat sy in die taxi geklim het, is sy gedreig dat hy weet waar sy skoolgaan en indien hy in hegtenis geneem sou word, sal hy borgtog kry, haar opspoor en weer verkrag.”

Die Vrystaatse polisie het inwoners versoek om te help om ’n taxibestuurder van ’n Vier plus een, asook ’n tweede man, te vind wat na bewering twee jong vroue in Welkom verkrag het.

Een van die twee slagoffers is deur haar ma se niggie vergesel om vir ’n taxi langs die Laerskool Reitzpark in Welkom te wag nadat sy op 13 Oktober van die matriekkamp teruggekeer het. Die bestuurder van ’n blou Renault Clio het langs hulle stilgehou en die matriekleerling ’n saamrygeleentheid aangebied.

Die bestuurder het uit die motor geklim, haar bagasie in die kattebak gesit en met haar weggery langs Stateway na Theunissen. Hy het by ’n oop stuk veld langs die hoofpad stilgehou, sê Stephen Thakeng, polisiewoordvoerder.

Die vermeende verkragter het ’n mes uitgehaal en geld geëis. Hy het toe die slagoffer opdrag gegee om uit te trek en haar na bewering verkrag. Hy het gery en haar alleen daar gelos.

Die polisie het hulp nodig om die verdagte op te spoor. Illustrasie: SAPD

Die voertuig het geen nommerplaat agter gehad nie. “Sy is ’n saamrygeleentheid gegee deur ’n ander persoon wat haar huis toe geneem het. Sy het die verkragting by die Welkom-polisiekantoor gaan aangemeld,” sê Thakeng. ’n Saak van ontvoering, verkragting en roof is vir verdere ondersoek geregistreer.

In ’n afsonderlike voorval is ’n 18-jarige vrou na bewering op 24 Mei ook in Welkom verkrag nadat ’n man haar by ’n snoepie in Koppie Alleenweg opgelaai het.

Die slagoffer het aan die bestuurder van ’n ligblou Toyota Tazz gesê sy gaan na die vierrigtingstop tussen Rastas en Mphatlalatsane in Thabong. Langs die pad het ’n ander vrou wat voor gesit het, besluit om af te klim.

Die man was vermoedelik betrokke by ’n verkragting. Illustrasie: SAPD

Terwyl hulle verder gery het, het die verdagte bier gedrink en gerook voordat hy by ’n oop veld stilgehou het. Hy het haar hier na bewering verkrag en later in Muizenstraat by die Welkom-sentrum afgelaai.

“Voordat sy in die taxi geklim het, is sy gedreig dat hy weet waar sy skoolgaan en indien hy in hegtenis geneem sou word, sal hy borgtog kry, haar opspoor en weer verkrag,” sê Thakeng.

“Sy het dit nooit vir iemand vertel totdat sy nou met haar onderwyser gepraat het nie.”

Thakeng het die verdagte beskryf as ’n bruin man met ’n litteken op sy regterwang en medium dun dreadlocks. Hy het 'n beroep op die publiek gedoen om die polisie te help met inligting oor waar die oortreders hulle bevind.

OFM Nuus/Kekeletso Mosebetsi      Daphné

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.