Central SA
Vereeniging-ma verhuur glo 9-jarige aan talle mans─── HEIDRÈ MALGAS 15:22 Wed, 22 Nov 2023
“Die polisie soek na nog verdagtes wat die afgelope twee jaar die minderjarige verkrag het.”
’n Vrou (36) van Leeuhof, Vereeniging, haar kêrel en ’n vriend kom Vrydag (24/11) voor in die plaaslike landdroshof vir die beweerde mensehandel van haar negejarige dogter.
Die drie is Woensdagoggend (22/11) in hegtenis geneem vir mensehandel en verkragting, sê Vaaldriehoek-polisiewoordvoerder Fikile Funda. Die word ook aangekla van versteking van geboorte omdat ’n fetus intussen gevind is by die woning waar die vrou in hegtenis geneem is. Sy het na bewering die lewe daaraan geskenk.
‘Die polisie soek na nog verdagtes’
Vaalweekblad berig die ma het haar dogter glo twee jaar lank aan mans verhuur. In een voorval het ’n verdagte die ma en dogter by ’n kafee in hul woonbuurt opgelaai en na ’n plek in De Deur geneem, waar hy eers seksuele omgang met die ma gehad het en toe die meisie verkrag het.
Die polisie soek na nog verdagtes wat die afgelope twee jaar die minderjarige verkrag het, na bewering met die ma se medewerking.
OFM Nuus/Heidrè Malgas
