Central SA
Lugmagvliegtuig stort neer by Lohatla in Noord-Kaap─── KEKELETSO MOSEBETSI 12:27 Thu, 23 Nov 2023
“Almal op die vliegtuig is veilig verklaar.”
’n Vliegtuig van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) het by die Gevegsopleidingsentrum van die Lohatla-weermagbasis in die Noord-Kaap neergestort.
Die ongeluk het Woensdagmiddag tydens die Oefening Vukuhlome gebeur. Andries Mokwena Mohapa, SANW-woordvoerder, sê die ongeluk het gebeur ná ’n maneuver om valskermsoldate uit die vliegtuig te laat spring.

Valskermsoldate spring uit die vliegtuig tydens die oefening. Foto: Facebook
Almal aan boord is veilig verklaar en niemand is beseer nie. Die Suid-Afrikaanse Mediese Gesondheidsdiens was vinnig op die toneel om die nodige bystand te verleen. Daar is met ’n ondersoek na die oorsaak van die ongeluk begin, asook om die skade aan die vliegtuig te bepaal.
Die doel van Oefening Vukuhlome is om die vermoëns van die weermag ten toon te stel. Meer as 14 000 soldate was betrokke by die oefeninge. Die weermag het die media, munisipale amptenare, militêre personeel van ander lande en militêre veterane toegelaat om van die oefeninge en opleiding by te woon.
Die gevegsopleidingsentrum was onlangs in die nuus ná die dood van ses soldate toe sterk wind veldbrande deur die oefenkamp versprei het. Die hele kamp, voertuie, skuiling en persoonlike besittings van 1 300 militêre personeel is in die brand vernietig. Talle beserings is aangemeld.
OFM Nuus/Kekeletso Mosebetsi Daphné/Corné
