Central SA
Waterprobleme in Theunissen, Brandfort bereik nuwe laagtepunt─── KAREN VAN DER BERG 13:30 Fri, 24 Nov 2023

“Soos die kwik styg, so groei die desperaatheid van mense hier vir wie oorlewing, hetsy geldelik of liggaamlik, ’n stryd raak.”
Inwoners van die Masilonyana-munisipaliteit, wat Brandfort, Theunissen en Winburg insluit, steier vir die soveelste keer onder ’n enorme waterkrisis met probleme wat klink asof dit uit ’n rillerrolprent is.
Dit kring uit en hulle is reeds jare vasgevang in ’n krisis wat hulle van lewensbelangrike hulpbronne ontneem, sê Jaco de Jager, ’n inwoner van Theunissen. “Soos die kwik styg, so groei die desperaatheid van mense hier vir wie oorlewing, hetsy geldelik of liggaamlik, ’n stryd raak.”
Boonop voel dit ook nie vir hom asof Dimakatso Modise, burgemeester, enige planne het om oplossings vir die krisis te probeer kry nie. In ’n WhatsApp-boodskap wat sy vir hom gestuur het (wat OFM Nuus gesien het), het sy onder meer gesê: “Die krisis is nie nuut vir my nie.”
De Jager, wat ook as werktuigkundige by die munisipaliteit werk, sê die waterprobleme van die distrik lê baie dieper as wat mense besef. Hy beweer daar is sekere kontrakteurs en sabotasie betrokke wat dit onmoontlik maak om ’n volhoubare plan te maak.
Van sy beweringe sluit in dat wanneer mense probeer om hul werk by die waterafdeling te doen, daar selfs op hulle geskiet word en hulle dan geïntimideer word. Dit is glo onveilig om daar te werk en daar is geen sekuriteit nie. Hy meen ook dit sal onmoontlik wees om dit te bewys omdat mense heeltyd omkoopgeld ontvang om niks te sê nie. Hy het wel ’n klag van bedrog by die polisie op Theunissen aanhangig gemaak.
Modise het hierdie beweringe ontken en sê sy is bewus van De Jager se ontevredenheid. “Ons is bewus van dié munisipale amptenaar. Ons neem kennis dat hy ook ’n inwoner is. Maar, daar is protokol wat gevolg moet word sodat daar gewaak word om met opset die tekortkominge in dienslewering uit te wys.
Intussen het die kommunikasieafdeling van die munisipaliteit in ’n verklaring gesê die waterprobleme is omdat beurtkrag toegepas word, asook die verhoogde aanvraag na water weens die hittegolf. Die probleem kry aandag.
‘Feite moet van skinderstories geskei word’
Modise het ook in ’n sterk bewoorde kommentaar aan OFM Nuus gesê die munisipaliteit gee aandag aan die waterprobleme. Oor die beweringe van sabotasie, intimidasie en wanbestuur het sy gevra dat “verantwoordelike joernalistiek gebruik moet word en feite van skinderstories geskei moet word.”
Modise het OFM Nuus ook verwys na Suzette Kriel, ’n inwoner van Brandfort, wat tevrede is met Modise se diens. Kriel sê hoewel sy weet die distrik het ernstige waterprobleme en dat sy nie sien hoe daar binnekort ’n langtermynoplossing is nie, is sy wel baie tevrede met Modise se kommunikasie.
‘Sy het die moeite gedoen om my persoonlik terug te bel’
“Ek het ’n pleidooi by haar gelewer oor hoe sleg dit met ons sonder water gaan en sy het die moeite gedoen om my persoonlik terug te bel.” Kriel sê dit het haar beïndruk, hoewel sy hoegenaamd nie tevrede is met die dienslewering nie.
Nkone Makata, die speaker, het die volgende in ’n boodskap aan inwoners bevestig:
- Daar is geen voltydse mense wat by die waterafdeling werk nie.
- Daar word nie water gepomp nie.
- Daar is geen sekureit by die waterafdeling nie.
- Daar gaan nie genoeg water verskaf kan word nie.
De Jager sê dié inligting staaf sy beweringe en wys op die wanfunksionaliteit van die munisipaliteit en die verwarrende inligting wat ontvang word.
OFM Nuus/Karen van der Berg daphné