On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Hansie vertel van sypaadjielewe

───   ELSABÉ DE JAGER 06:00 Tue, 28 Nov 2023

Hansie vertel van sypaadjielewe | News Article
Hansie en Jack. Foto verskaf

“Soms beteken net ’n bietjie vriendelikheid meer as geld of ’n stukkie kos, Mevrou.”

Hansie Fourie, bedelaar voor die aftreeoord oorkant die Northridge-winkelstrum, is die afgelope nege jaar aan menige Bloemfonteiner beter bekend as die man met die hond. Hy sit laatoggend in die bloedige son met sy rug teen die muur en hou ’n geel sambreel oor Jack, die vriendelike klein terriër, se kop.  

Hy gesels oor sy sypaadjiedae. Hy lag toe hy vertel hy het sy “kantoor” op hierdie einste plek, nege jaar gelede, oopgemaak. Destyds het hy eers in ’n tent, later in ’n sinkgehuggie op die oop stuk veld oorkant die winkelsentrum gebly. So vyf jaar gelede, as hy reg onthou, het ’n weldoener vir hom blyplek op ’n plaas agter die kwekery gekry.

’n Motor hou stil. Die vrou laai twee sakke hondekos af. Hansie stap oor die straat en gaan gee een vir die twee bedelaars by die verkeerslig. “Hulle het ’n siek hondjie daar onder die afdak waar hulle by die skougronde bly, mevrou. Ons ouens wat sukkel, sorg maar vir mekaar.”

Jack is Hansie se beste vriend. Foto verskaf 

Sy skurwe hand haal eerbiedig die verbleikte Springbokpet, wat sonder twyfel ’n paar Wêreldbekers oorleef het, af toe ons oor Droopy, Jack se voorganger, begin gesels. “Ai, Mevrou, daai hond was my hart. Hy het gesorg dat ek my lus vir drank heeltemal laat staan het. Ek en hy het mekaar nodig gehad.” 

Vir sewe jaar het Droopy getrou aan Hansie se sy, deur die Vrystaatsomers, die snerpende koue, donderweer en eenkeer selfs sneeu, onthou hy, sy sypaadjiekantoor beman.

Hansie kyk ver toe hy van 28 Oktober 2021 vertel. Hy het Droopy se as tussen die wilde pers blomme op die plaas gaan strooi. Drie dae daarna stap klein Jack, wat “ook maar soos ek, swaarpad geloop het, mevrou,” sy lewe binne. Jack is slim. “Hy herken die dreuning van al die regulars se motors op ’n afstand, Mevrou.” Hy sê Jack is anders as wat die skaam Droopy was. Jack is ’n ekstrovert.

Die lewe het Hansie van anderkant die land, meestal grondpadlangs, tot in Bloemfontein laat loop. Hy onthou sy kinderhuisdae as ’n gelukkige tyd, want hy het veilig gevoel. Die skool op Heidelberg asook die weermag het hom reggebuig, lag hy. Hy sê die Bloemfonteiners is sy familie.

Vir nege jaar het Droopy langs hom gestap. Foto: Elsabé de Jager

Nog ’n motor hou stil. Met die wegtrek wuif Hansie die gawe mense agterna. Hy tel vir Jack, sy beste vriend, die lig in sy lewe, op. Saam gaan sit hulle teen die kantoormuur, wagtend op die volgende motor.

OFM Nuus/Elsabé de Jager

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.