Central SA
Vrystaatse tenderpreneur moet Jan Taks R757 000 terugbetaal─── 08:34 Thu, 30 Nov 2023

Motaung se jonger broer Katleho het ook in 2022 op aanklagte van belastingbedrog in die hof verskyn, nadat dié se maatskappy ook nie sy inkomste en uitgawes aan die SAID verklaar het nie.
’n Vrystaatse tenderpreneur Tebang Motaung is deur die Bloemfonteinse landdroshof skuldig bevind aan belastingontduiking van R757 069. As boete moet hy die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) maandeliks in paaiemente terugbetaal.
Motaung, die seun van die bekende Bloemfonteinse radiopersoonlikheid Thuso Motaung, se probleme het begin toe sy maatskappy Newtongate in 2020 miljoene ontvang het ná ’n suksesvolle Covid-19-tenderproses om persoonlike beskermende toerusting aan die Vrystaatse regering te verskaf.
Volgens Fikiswa Matoti van die polisie se Direktoraat vir Prioriteitsmisdaadondersoeke (Valke), het Motaung aan die einde van daardie belastingjaar ’n nulopgawe ingedien asof Newtongate geen inkomste verdien het nie. Volgens ’n berig deur News24 het dit inderwaarheid ’n inkomste van R6,4 miljoen gehad. OFM Nuus het ook vroeër berig dat altesame drie tenderkontrakte aan Newtongate toegeken is.
“Die SAID het die onreëlmatigheid opgespoor en met ’n interne ondersoek begin wat aan die lig gebring het dat Newtongate inkomste verkry en uitgawes aangegaan het, maar 'n nulopgawe ingedien het. In die proses is die SAID benadeel en 'n totale verlies van R757 068,94 is gely,” sê Matoti in ’n verklaring.
’n Strafsaak is geopen en na die Valke verwys vir verdere ondersoek, wat gelei het tot die skuldigbevinding van Newtongate aan die oortreding van die Wet op Belastingadministrasie.
Foto ter illustrasie
Die Bloemfonteinse landdroshof het Newtongate tot 'n boete van R1 miljoen gevonnis wat vir vyf jaar opgeskort is, op voorwaarde dat die maatskappy nie gedurende dié tydperk aan bedrog skuldig bevind word nie. Motaung is beveel om aan die SAID 'n bedrag van R756 259.55 in paaiemente terug te betaal, naamlik R60 000 vóór of op 31 Maart 2024 en daarna maandelikse paaiemente van R32 000.
Volgens News24 het Motaung se jonger broer Katleho ook in 2022 op aanklagte van belastingbedrog in die hof verskyn, nadat dié se maatskappy Le Di Phaka Phaka ook nie sy inkomste en uitgawes aan die SAID verklaar het nie. Volgens hofdokumente was Katleho se maatskappy veronderstel om belasting van byna R254 000 te betaal ná inkomste van R1,9 miljoen vir drie tenderkontrakte.
OFM Nuus/Christine van der Westhuizen Corné