Central SA
‘ANC maak steeds leë beloftes oor e-tol’ – VF Plus─── 08:59 Fri, 01 Dec 2023
‘Die realiteit is egter dat e-tol steeds ten volle funksioneer.’
’n Jaar sedert die ANC-regering onderneem het om die e-tolstelsel in Gauteng af te skaf en padgebruikers wat hiervoor betaal het te vergoed, is die stelsel steeds in werking en word rekeninge steeds uitgestuur.
Die VF Plus beskuldig die ANC daarvan dat hy “leë beloftes” maak nadat Gauteng se LUR vir Finansies, Jacob Mamabolo, tydens die provinsie se aansuiweringsbegroting onderneem het om teen einde Desember ’n plan aan die Nasionale Tesourie voor te lê om 30% van die e-tolgelde verskuldig aan die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (Sanral) te betaal. Dié bedrag beloop R12,9 miljard.
“Dit is ironies gegewe dat die Gautengse premier, Panyaza Lesufi, verlede jaar hierdie tyd belowe het dat e-tol teen 2022 afgeskaf sal wees. Die realiteit is egter dat e-tol steeds ten volle funksioneer en dat rekeninge steeds aan padgebruikers uitgestuur word,” sê adv. Anton Alberts, Gautengse VF Plus-LPW.

Gauteng se e-tolstelsel is ondanks beloftes steeds nie afgeskaf nie. Foto: The Citizen
‘Weereens duidelik ANC kan nie sy beloftes nakom’
“Mamabolo se plan om die e-tolskuld te betaal deur die provinsie se inkomste te verhoog met die skep van ’n provinsiale staatsbank en farmaseutiese maatskappy, is lagwekkend gegewe die ANC se wanbestuur en vernietiging van talle staatsondernemings soos die Landbank, Poskantoor en Transnet.
“Dis weereens baie duidelik dat die ANC nie sy beloftes – om die e-tol af te skaf – kan nakom nie en dat dit te doen het met ’n provinsiale ekonomie wat onder die ANC vernietig is. Geen dagdrome oor eie provinsiale banke en farmaseutiese maatskappye sal die provinsie se ekonomie omdraai nie.”
OFM Nuus Corné
