Central SA
2 mans in hof vir moord op vrou van Hartbeesfontein─── ZENANDE MPAME 10:19 Fri, 01 Dec 2023

“Die polisie het tydens die inhegtenisneming verskeie gesteelde items teruggevind.”
Twee verdagtes het gister (30/11) in die Hartbeesfontein-landdroshof verskyn op aanklagte van moord en drie aanklagte van huisroof. Hulle word verbind met die moord op Marilize Bosman.
Bosman is verlede week (24/11) in haar slaapkamer geskiet toe sy probeer het om haar dogter teen hulle te beskerm. Paramedici het haar op die toneel dood verklaar.
“Phillip Djan (48) en Pascal Senayah (39) is Dinsdagoggend (28/11) in Morokweng in hegtenis geneem. Hulle bly in aanhouding totdat hulle Dinsdag (12/12) weer in die hof verskyn.”
Marilize Bosman is op die toneel deur paramedici dood verklaar. Foto: Facebook/ Marilize Bosman
“Die polisie het tydens die inhegtenisneming verskeie gesteelde items teruggevind wat die twee mans met die moord op Marilize Bosman en nog twee huisrooftogte verbind, wat Vrydag (24/11) in Hartbeesfontein aangemeld is,” sê Adéle Myburgh, polisiewoordvoerder in Noordwes.
Baie trane op begrafnis van vermoorde weduwee
OFM Nuus het vroeër berig die 39-jarige weduwee is gister (30/11) by die Christelike Vereniging van Suid-Afrika in Klerksdorp ter ruste gelê. Li-Mari (15) was een van die draers van haar ma se kis.
OFM Nuus/Zenande Mpame Daphné/Corné