On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Noordwes-polisiebestuur gryp in nadat beeste van gif vrek

───   14:31 Fri, 01 Dec 2023

Noordwes-polisiebestuur gryp in nadat beeste van gif vrek  | News Article
Ockert Goosen besig om sy dooie beeste te verbrand. Foto: Skermgreep

“Ek kan nie in woorde verduidelik hoe dit voel nie. Dit is nie ’n mooi gesig nie.”

Lede van Noordwes se polisiebestuur, onder leiding van die provinsiale polisiekommissaris lt.-genl. Sello Kwena, het ’n ondersoek begin nadat 44 beeste op ’n plaas naby Bray vergiftig is. Dit volg nadat die plaaslike polisie glo eers geweier het om die saak te ondersoek.

Altesame 33 beeste, waarvan die meeste dragtig was, asook elf kalwers van die jong boer, Ockert Goosen (25), is die afgelope naweek vergiftig. Daarby is agt van sy kalwers twee weke vantevore gesteel. Hy het aan die Landbouweekblad vertel dit was die eerste keer dat vee by hom gesteel is sedert hy twee en ’n half jaar gelede met Bonsmara-beeste en Bonsmara-beeskruisings begin boer het.

“Ek kan nie in woorde verduidelik hoe dit voel nie. Dit is nie ’n mooi gesig nie.”

Altesame 33 koeie en elf kalwers is vergiftig. Foto: Skermgreep

Sindikaat teister veeboere al langer as ’n dekade 

Maroela Media berig dat boere in die omgewing al vir meer as ’n dekade deur ’n veediefstalsindikaat geteister word wat na bewering bande met die polisie het. Nadat Goosen se kalwers gesteel is, wou hy en sy pa ’n klag by die polisie van Bray gaan lê maar die beamptes aan diens het glo geweier. Eers toe daar gedreig is om ’n video te neem, is daar gehoor gegee.

Die vermeende sindikaatleier het daarna sy pa gekontak en gedreig om sy seun se beeste te steel en te vergiftig. Dié man is aan die gemeenskap bekend en is al talle kere op beeldmateriaal vasgelê.

Sondagoggend (26/11) het Goosen se werkers hom benoud gebel en vertel van die beeste wat besig is om te vrek. Hy het op 33 dooie koeie en elf kalwers afgekom wat vergiftig is deur gif in ’n waterkrip. ’n Klomp dooie duiwe en ’n uil is ook uit die krip gehaal. Altesame 24 kalwers is wees gelaat en moet nou met die hand grootgemaak word.

Ockert Goosen besig om sy dooie beeste te verbrand. Foto: Skermgreep

Tot in sy wese geskok

Goosen sê hy was tot in sy wese geskok toe hy op sy beeste afgekom het. “Ek is baie lief vir my diere en het ’n passie vir my boerdery, wat die grootste motivering van my lewe is.”

Noordwes se polisiebestuur het eers van die saak te wete gekom toe foto’s van die beeldkarkasse op verskeie sosialemediaplatforms versprei is. ’n Ondersoekspan het Sondag die toneel besoek en monsters vir forensiese ontleding geneem.

“Die span sal ook na alle bewerings kyk, insluitend die bestaan van ’n veediefstalsindikaat in die gebied,” sê polisiewoordvoerder Sabata Mokgwabone.

‘Oorweldig deur mense wat hul harte en hande oopmaak’

Intussen het Goosen se bure ingespring om hom te help om die beeskarkasse te begrawe. “Met al die sleg is ek ook oorweldig deur die groot hoeveelheid mense wat hul harte en hande vir ons oopmaak en selfs beeste wil skenk om my te help om weer aan die gang te kom,” sê hy.

Die polisie versoek dus enigiemand met inligting om kol. Dawie Lange by 082 372 4528 te kontak of die polisie se Stop Misdaadnommer by 08600 10111 te skakel. In geval van enige ontevredenheid, word lede van die gemeenskap versoek om hul plaaslike stasiebevelvoerders, distrikskommissarisse of die provinsiale diensklagtekantoor by 082 856 0995 te kontak.

OFM Nuus/Christine van der Westhuizen Corné

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.