Central SA
Vrystaatse moordenaar meld by polisie aan met sy vrou se liggaam─── 05:43 Sun, 03 Dec 2023
“Toe hy gevra is wat gebeur het, het hy aan die polisie gesê dat hy die moord op sy vrou, wat in sy motor was, kom aanmeld het.”
’n 30-jarige Vrystaatse man het Saterdag met die lewelose liggaam van sy 23-jarige vrou by die Ficksburg-polisiestasie opgedaag waar hy haar moord aangemeld en homself ingegee het.
Die Lesotho-burger, wat in Meqheleng, Ficksburg, woon, het voor die polisiestasie geparkeer en in trane ingestap, het die woordvoerder ao. Mmako Mophiring gesê.
“Toe hy gevra is wat gebeur het, het hy aan die polisie gesê dat hy die moord op sy vrou, wat in sy motor was, kom aanmeld het.
“Mediese nooddienspersoneel is ontbied en het die vrou dood verklaar.
“Sy naam en dié van die oorledene is aan die polisie bekend maar sal eers bekend gemaak word sodra die naasbestaandes die liggaam positief geïdentifiseer het.”
Argument lei tot moord
Mophiring het gesê die egpaar het glo ’n hewige argument gehad terwyl hulle in die motor by Meulspruitdam, buite Ficksburg, gesit het.
“Hy sê die vrou het na bewering vir die man gesê sy is siek en hy het kwaad geword en haar aangerand.
“In die proses is sy met ’n skerp instrument in die nek gesteek en haar bewussyn verloor.
“Dit is toe dat die man van die dam af gery het om die voorval aan te meld,” het Mophiring gesê.
Die voorval is een van die vele tragiese gevalle wat tot dusver tydens die jaarlikse veldtog – 16 Dae van Aktivisme vir Geen Geweld Teen Vroue en Kinders – plaasgevind het.

In Suid-Afrika het ’n vrou ook ’n groter kans om verkrag te word as om werk te kry of te leer lees. Foto: change.org
The Citizen berig Volgens Petronella Ntlake, ’n kenner van geslagsgebaseerde geweldskwessies, het Suid-Afrika nog ’n lang pad om te gaan voordat dié soort misdaad uitgeroei kan word.
"Totdat ons ’n manier vind om dit te hanteer, het ons ’n baie lang pad om te gaan voordat ons vordering kan vier, of selfs kan praat oor die versuim om die omvang van onderrapportering teenoor die bevolkingsgetalle vas te vang," het sy gesê.
Haar opmerkings het gekom ná die vierde jaarlikse geweldsopname wat deur RCS van stapel gestuur is.
Die resultate van die 2023-opname het die impak van geweld op Suid-Afrikaanse gemeenskappe en besighede onthul.
OFM Nuus Corné

