Central SA
Vermeende vragmotorkaper in Noordwes-hof verwag─── 06:56 Sun, 03 Dec 2023
“ ’n Wit voertuig het dit verbysteek en ligte flits vir die bestuurder om af te trek. Die verdagtes was na bewering in polisie-uniform geklee.”
’n Vermeende vragmotorkaper is in hegtenis geneem ná ’n voorval dié week by Ottosdal en sal na verwagting Maandag (4/12) voor die Schweizer-Reneke-landdroshof verskyn.
'n 37-jarige vragmotorbestuurder het Woensdagaand (29/11) in die rigting van die Madibogo Village gery om mieliemeel in 'n wit Fuso-vragmotor af te lewer, toe ’n wit voertuig dit verbysteek en ligte flits vir die bestuurder om af te trek. Die verdagtes was na bewering in polisie-uniform geklee.
Skote is glo daarna tussen Delareyville en Ottosdal op die vragmotor gevuur om die bestuurder te dwing om op die R507-pad stil te hou. Die bestuurder het in ’n nabygeleë mielieland ontsnap. Die verdagtes het met die vragmotor weggery. Dit is ’n rukkie later op dieselfde pad, nie ver van Ottosdal nie, gevind.
Woordvoerder Adéle Myburgh het gesê inligting wat deur misdaadintelligensie verkry is, het die span Donderdag na Schweizer-Reneke gelei waar die wit voertuig, soos beskryf, waargeneem en onderskep is. Die polisie het die voertuig deursoek en ’n geldtrommeltjie en selfoon gevind, vermoedelik die eiendom van die vragmotorbestuurder wat vroeër gekaap is. Die verdagte is in hegtenis geneem en daar is beslag gelê op die voertuig.
’n Spanpoging deur die provinsiale en Pudimoe-misdaadintelligensie-eenhede, asook Schweizer-Reneke se polisie, het gelei tot die inhegtenisname van dié verdagte (25). Hy is aangekla vir die besit van vermoedelik gesteelde goedere.

Die motor wat in ’n bosagtige gebied ontdek is. Foto verskaf
In Klipgat, in die Bojanala Platimum-subdistrik, het die plaaslike speurders en Sigbare Polisiëringslede Woensdag (29/11) ’n misdaadintelligensie-gedrewe operasie uitgevoer om inligting wat ontvang is, te operasionaliseer. Omstreeks 12:00 het die span ’n wit Volkswagen Polo ontdek waarvan sommige onderdele verwyder is en in ’n bosagtige gebied versteek is. Voorlopige ondersoeke het aan die lig gebring dat die Polo in die vroeë oggendure van dieselfde dag tydens ’n huisroof by Soshanguve gesteel is. Geen verdagtes is in hegtenis geneem nie. Die ondersoek duur voort.
Die Provinsiale Kommissaris van Noordwes, luitenant-generaal Sello Kwena, het al die lede van die spanne geloof vir hul pogings. Hy het ook die gemeenskap bedank dat hulle die oë en ore van die polisie is.
OFM Nuus Corné
