On Now
Weekends 22:00 - 23:59
Overnight OFM
NEXT: 00:00 - 05:00 Early Mornings with Oscar
Listen Live Streams

Central SA

Warm en droë toestande kan res van seisoen heers

───   KAREN VAN DER BERG 09:40 Tue, 05 Dec 2023

Warm en droë toestande kan res van seisoen heers | News Article

“Twee groot, onderliggende faktore is op die oomblik verantwoordelik vir die warm en droë toestande.”

’n Weerkundige voorspel die geringe reënval en hittegolf wat in Sentraal-Suid-Afrika heers, kan dalk nog ’n hele tydjie voortduur.

Dit is nie goeie nuus vir veral landbouprodusente op plase waar die brandgevaar hoog bly nie, sê Johan van den Berg.

In die distrik Philippolis in die Suid-Vrystaat het twee groot veldbrande weer die naweek gewoed nadat weerlig die veld aan die brand geslaan het, sê Jens Friis, inwoner en redakteur van Philippolis Post.

In Oktober het 68 000 ha veld tydens brande in die slag gebly. Honderde diere en vee het doodgebrand. Die brand die naweek het 22 uur geduur voordat dit geblus kon word, sê Friis. “Die brandgevaar is steeds hemelhoog omdat die veld droog is ná die winter en daar nog nie deurdringende reën geval het in die lente nie.”

Brande het die naweek weer in die distrik Philippolis voorgekom en groot stukke veld vernietig. Foto: Niel Kruger

Volgens Van den Berg ervaar groot dele van die land op die oomblik snikhete en droë toestande, veral in die sentrale en westelike dele. “Die voorspellings vir reën wissel baie. Twee weke gelede is voorspel dat die eerste twee weke van Desember waternat sou wees. Dit het toe wel verander en bloedige warm toestande met geen of min reën het tot dusver voorgekom. Dit lyk tog of daar hierdie week ’n kans op reën is.”

Hy sê die wisselende voorspellings is maar net ’n teken van die onsekerheid wat buite heers.

“Twee groot, onderliggende faktore is op die oomblik verantwoordelik vir die warm en droë toestande.” 

Die eerste is die El Niño-stelsel. “Dit beteken die temperature van veral die Stille Oseaan warmer as normaal is en dit veroorsaak gewoonlik droër toestande, veral van Desember tot Februarie.”

Brande in die distrik Philippolis. Foto: Niel Kruger

Oor die Indiese Oseaan is ’n verskynsel dat veral die weste, die gedeelte nader aan die Afrika-kuslyn, warmer as normaal is. Dit lyk daarom of die droë en warm toestande vir die res van die seisoen kan heers.

“Dit beteken nie dit gaan glad nie reën nie, maar die reën gaan kol-kol uitsak of in strepe. Dit sal daarom nie doeltreffend wees nie en met warm en winderige toestande gepaardgaan,” sê Van den Berg.

OFM Nuus/Karen van der Berg Corné

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.