On Now
Weekends 12:00 - 16:00
Saterdag Siësta Ashmund
NEXT: 16:00 - 20:00 OFM Decades with James
Listen Live Streams

Central SA

Miljoene ekstra om wit olifantprojek in Noordwes te voltooi

───   KEKELETSO MOSEBETSI 14:54 Tue, 05 Dec 2023

Miljoene ekstra om wit olifantprojek in Noordwes te voltooi | News Article
Skoor-lede, onder leiding van Job Dliso, het die Manyane-lodge, wat in ’n wit olifant in Noordwes ontaard het, besoek. Foto: Facebook

“Ek het antwoorde nodig want die geld kom uit die begroting van die Departement van Toerisme. Die eerste R48 miljoen het daarvandaan gekom en daardie geld moet voor verantwoording gedoen word.”

Noordwes se Departement van Toerisme het ’n bykomende R27,9 miljoen begroot om die Manyane-lodge, wat in ’n wit olifant buite Mahikeng in Noordwes ontaard het, te voltooi.

Die verwaarloosde lodge is een van die projekte wat die departement in 2021 aan die Ontwikkelingsbank van Suid-Afrika uitgekontrakteer het om te voltooi. Die bank het ’n professionele diensverskaffer en kontrakteur vir die projek aangestel teen ’n koste van R27,9 miljoen. Dit is bykomend tot die byna R48 miljoen wat reeds aan die projek bestee is.

‘Vermorste uitgawes’

Patricia de Lille, minister van Toerisme, het tydens haar onlangse besoek aan die lodge gesê die vermorste uitgawes en vertraging van die projek moet verreken word.

“Ek het antwoorde nodig want die geld kom uit die begroting van die Departement van Toerisme. Die eerste R48 miljoen het daarvandaan gekom en daardie geld moet voor verantwoording gedoen word. Toe besluit die departement om nóg R27 miljoen te bestee en daardie geld moet óók voor verantwoording gedoen word.”


Die projek is al vir etlike jare onvoltooid. In 2011 is ’n kontrakteur, Re A Aga Infrastructure, met ’n begroting van R48 miljoen aangestel om die lodge op te knap. Die beplanning het in 2012 begin en bouwerk in November 2013. ’n Woordvoerder van die Departement van Toerisme, Zara Nicholson, sê R47 884 114 is aan die projek bestee, waarvan R36 187 114 vir konstruksie was en R11 700 000 om werksgeleenthede te skep en vervoer aan werkers te verskaf.

Kontrakteur versoek bykomende fondse

Na wat verneem word het die kontrakteur aan die einde van 2015 bykomende fondse versoek om die projek te voltooi maar die versoek is van die hand gewys. Bouwerk is gestaak nadat die departement die regering se Tegniese Adviessentrum (GTAC) in 2016 opdrag gegee het om verskeie projekte te hersien. Ten tyde van die hersiening het die kontrak met die kontrakteur verval.

In 2018 het die GTAC aanbeveel dat die lodge voltooi word maar geen werk is sedertdien gedoen nie. Sedert 2020 is verskeie voorvalle van vandalisme en diefstal by die polisie in Mahikeng aangemeld.

Geen werk is glo sedert 2018 by die Manyane-lodge in Noordwes gedoen nie. Foto: Facebook

“Die plek is vervalle. Die mense aan wie R48 miljoen gegee is, het nie eens 'n sent gebruik as mens na die lodge kyk nie. Daar is niks, dit is erger as voorheen. Wat kommerwekkend is, is dat die departement 'n sekuriteitswag in diens geneem het met wie ek gepraat het, hy ken nie eens sy werkgewer nie,” sê Job Dliso, voorsitter van die staande komitee oor openbare rekeninge (Skoor) in Noordwes.

Die opknapping van die lodge behels die voltooiing van ’n restaurantgebou, die bou van 'n 50-sitplek konferensiesaal, die opknapping van tien standaard chalets, nege luukse chalets en die herbou een luukse chalet. Die opknapping van die swembad, dam, advertensiebord, waghuisie, tuine, plaveisel en parkeerareas is ook op die lys, asook die oprigting van ’n veiligheidsheining.

Na verwagting sal die projek teen Oktober 2024 voltooi wees. Die terreinoorhandiging het op 13 November vanjaar plaasgevind en konstruksie sal binnekort begin.

OFM Nuus/Kekeletso Mosebetsi CG

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.