On Now
Weekdays 05:00 - 06:00
The Agri Hour Gerben
NEXT: 06:00 - 09:00 The Good Morning Breakfast with Shandor, Margaret and John
Listen Live Streams

Central SA

Jou hond het beskerming nodig in dié hitte

───   HEIDRÈ MALGAS 20:30 Tue, 05 Dec 2023

Jou hond het beskerming nodig in dié hitte  | News Article

“Honde wat hitteuitputting het sal lusteloos voorkom, buitensporig hyg, onverklaarbare braking of diarree hê.”

Die hittegolf raak soms ondraaglik vir honde en hul eienaars. Die Bloemfonteinse Dierebeskermingsvereniging het raad oor hoe eienaars hul viervoetige kinders dié somer teen hitteuitputting kan beskerm.

Dit is belangrik waar ’n mens die honde se hokke plaas, sê Werner Botha, senior DBV-inspekteur. Die beste plek is waar die meeste skaduwee in die dag is. Hou die hondehok weg van direkte sonlig of plaas dit onder ’n boom.

“Eienaars moet onthou dat skuilings ideaal is vir beskerming teen die elemente, maar omdat die hokke net een oop kant het, verskaf hulle dikwels nie voldoende ventilasie nie. Skadunette kan verkry word by die meeste ysterwarewinkels of boumateriaalverskaffers en kan oor of langs die hondehok geplaas word vir ekstra skaduwee,” sê Botha.

Waterbakke moet ook nie in direkte sonlig geplaas word nie. Die meeste waterbakke word van metaal vervaardig wat beteken die bak én die water daarin kan vuurwarm word.

“Daarom beveel ons aan dat eienaars waterbakke in die skaduwee plaas en gereeld ysblokkies byvoeg om die water koel te hou. Anders as mense het honde nie ’n aansienlike hoeveelheid sweetkliere nie en koel hulle hulself af deur die vel in hul bek af te koel.”  

Mense moet ook daarop let dat hulle nie met hul honde moet gaan draf of stap as dit te warm is nie want die warm padoppervlak kan hul pote brand. “Die teer- en grondpaaie absorbeer en behou hitte veel langer as wat ons dink. Ons beveel aan dat honde-eienaars voor sonsopkoms of ná sonsondergang met hul honde stap of draf,” sê hy.

Wees ook versigtig as daar met honde in voertuie gereis moet word. “Honde-eienaars moet die simptome van hitteuitputting ken en basiese noodhulp kan bied,” sê Botha. “Honde wat hitteuitputting het sal lusteloos voorkom, buitensporig hyg, onverklaarbare braking of diarree hê en hul tandvleis sal pers verkleur,” sê hy.

Verskuif die honde na ’n koel plek en hou hulle kalm terwyl hul vel stadig natgemaak word om hulle af te koel.

Gedurende die hitte neem die risiko van bosluiskoors skerp toe. “Baie van die produkte wat by kleinhandelaars gekoop word, is nie doeltreffend genoeg nie en spesiale produkte behoort verkry te word by ’n veearts of sommige DBV’s,” sê Botha.

OFM Nuus/Heidre Malgas  dg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.