On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Yolanda
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Pulane
Listen Live Streams

Central SA

Geen mens kan sy roeping ignoreer nie – nuwe Vrystaatse diensleraar

───   ELSABÉ DE JAGER 09:57 Fri, 08 Dec 2023

Geen mens kan sy roeping ignoreer nie – nuwe Vrystaatse diensleraar | News Article
Hester Fourie. Foto verskaf

Sy het ’n intense behoefte ondervind om nóg dieper verryk te raak deur die Woord van God.

Die Vrystaat se nuwe proponente, diensleraars en bedienaars is slaggereed om ’n bydrae te lewer met hul wye belangstellings, soos ’n passie vir jong mense, gesinne en seniors, tot ’n liefde vir historiese teologie, sendingwerk en gemeentebediening.

Die Kuratorium van die NG Kerk in die Vrystaat het onlangs tien afgestudeerdes by die NG Gemeente Bainsvlei in Bloemfontein gelegitimeer, onder wie Hester Fourie. Sy tree die afgelope tien jaar op as pastorale versorger by skole in Kroonstad en Hennenman. Sy is ook betrokke by Diens van Barmhartigheid op haar tuisdorp, Ventersburg.

“Geen mens kan sy roeping ignoreer nie,” sê Fourie. Sy het 50-jarige ouderdom praktiese teologie begin studeer aan die Teologiese Fakulteit van die Universiteit van die Vrystaat. Daarna het sy by die twee skole in die Vrystaat begin werk.

Fourie het praktiese teologie aan Kovsies studeer. Foto: UV

Daar het haar pad gekruis met talle jong meisies wat seksueel misbruik is. Die jong mense het weens trauma deurentyd geworstel met hul identiteit. Hulle het vir hulself geen goeie toekoms in die vooruitsig gestel nie.

Vir Fourie was dit ’n groot uitdaging om hierdie meisies by die hand te neem en na herstel te lei – daar waar hulle weer goed genoeg voel oor die lewe.

Hierdie tyd in haar lewe het toe ook die saadjie geplant vir die besluit om haar doktorsgraad aan te pak. Haar proefskrif het gehandel oor die narratiewe benadering tot seksuele misbruik van meisies.

‘Sy het spoedig besef haar studiepad is nog lank nie afgehandel nie’

Fourie sê sy het spoedig besef haar studiepad is nog lank nie afgehandel nie. Sy het ’n intense behoefte ondervind om nóg dieper verryk te raak deur die Woord van God. Sy skryf kort daarna in vir ’n opleidingskursus waartydens sy haar as diensleraar sou bekwaam. As diensleraar voel sy, staan sy op stewiger grond om gemeenskapswerk te kan doen.

Betrokkenheid in haar gemeenskap is vir Fourie, wat binnekort haar 70ste verjaarsdag vier, ’n ware passie. Dit gee haar die geleentheid om mense by te staan deur kospakkies af te lewer, van raad te bedien wanneer hulle uitdagings moet oorkom en ook gedurig tussen die mense rond te beweeg en hulp te verleen waar sy kan.

Vir hierdie dienaar, wat steeds gebuk gaan onder die nagevolge van ernstige siekte tydens die inperkingstyd, lewer elke dag nuwe vreugde en geleenthede op. Die behoefte sal altyd bly bestaan om net nog méér kennis op te doen op haar lewenspad.

OFM Nuus/Elsabé de Jager       dg/mc

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.