Central SA
Jong pianis wen groot beurs in Bloemfontein─── KAREN VAN DER BERG 11:59 Mon, 11 Dec 2023

“Dit is vir my baie spesiaal om dit te wen. Ek voel ongelooflik dankbaar daaroor.”
Dit is ’n absolute eer om die Human Naudé-musiekbeurs te ontvang, sê vanjaar se wenner van die gesogte beurs wat opgerig is deur Japie Human en wyle Willem Naudé van Bloemfontein wat diep spore in die musiekwêreld getrap het.
Dit bepaal dat ’n beurs van R100 000, met streng voorwaardes oor hoe dit aangewend mag word, aan ’n musiekstudent gegee word vir verdere musikale ontwikkeling.
Gerhard sê hy voel ongelooflik dankbaar daaroor. Foto verskaf
Gerhard Joubert (22), ’n musiekstudent in sy vierde jaar en talentvolle pianis van Kaapstad, is verlede week tydens die jaarlikse uitvoering in die teater van die Odeion-skool vir musiek aan die Universiteit van die Vrystaat deur die keurkomitee as wenner aangewys.
“Dit is vir my baie spesiaal om dit te wen. Ek voel ongelooflik dankbaar daaroor,” sê Joubert. “Ek is seker dit sal my baie … help met ontwikkeling.” Hy is nog onseker presies hoe om dit aan te wend, maar is opgewonde oor die moontlikhede. “Dit is ’n baie groot hulp om myself te ontwikkel.”
Gerhard het pas sy vierde jaar by François du Toit voltooi. Foto verskaf
Joubert het al talle pryse ingeryg, waaronder die Atterbury-klavierkompetisie en die Nasionale Jeugmusiekkompetisie in 2021. Hy het pas sy vierde jaar by François du Toit aan die SA Musiekkollege van die Universiteit van Kaapstad voltooi.
Die ander vyf finaliste was Willie Naudé (tjellis), Vincent van Schalkwyk (kitaarspeler), Thando Mabuza (sopraan), Jason September (tenoor) en Mngenela Sisikelewe (sopraan).