On Now
Weekdays 19:00 - 22:00
OFM Nights Ashmund
Show Background
NEXT: 22:00 - 23:59 Overnight with OFM
Listen Live Streams

Central SA

Reg, geregtigheid seëvier in Potchefstroom met arres van vyf

───   15:11 Mon, 11 Dec 2023

Reg, geregtigheid seëvier in Potchefstroom met arres van vyf | News Article
Foto: OFM News

“Winkelbestuurders en werknemers moet in die feestyd op hul hoede wees omdat hierdie soort oortreders by uitstek winkels teiken wanneer dit besig is en werknemers se aandag afgelei word.”

Vyf verdagtes is Maandagoggend (11/12) in Potchefstroom in hegtenis geneem vir die besit van vermoedelik gesteelde goedere en diefstal as deel van Operasie Tlotla Molao, ‘n projek om die Kerstyd veiliger te maak.

Die inhegtenisnemings spruit uit ‘n voorval verlede Vrydag toe die verdagtes in ‘n voertuig by ‘n winkelsentrum parkeer het. Toe hulle uitklim en in pare by die sentrum ingaan, het die motorwag agterdogtig geword en ’n veiligheidsmaatskappy in kennis gestel, wat ‘n oog op die verdagtes en hul voertuig gehou het. 

Toe die verdagtes terugkom en wegry, het die veiligheidsmaatskappy se reaksiespan probeer om die voertuig tot stilstand te bring. Die verdagtes het weggejaag en die reaksiespan het hulle agternagesit. Die polisie is in kennis gestel en die verdagtes se voertuig is uiteindelik buite Potchefstroom in die rigting van Klerksdorp voorgekeer.

‘Die saak word verder ondersoek’

‘n Soektog deur die polisie het plastieksakke vol klerasie van twee klerewinkels, steeds met prysetikette daaraan, opgelewer. Omdat die verdagtes geen betalingsbewys kon toon nie, is hulle in hegtenis geneem. Die drie vroue en twee mans van tussen 27 en 54 jaar sal Maandag (18/12) in die landdroshof in Potchefstroom verskyn. 

Die polisie sê hulle sal saam met ander wetstoepassingsagentskappe in Noordwes werk om alle winkelbestuurders en werknemers te waarsku om in die feestyd op hul hoede te wees omdat hierdie tipe oortreders by uitstek winkels teiken wanneer dit besig is en werknemers se aandag afgetrek word.

Die saak word verder ondersoek.

OFM Nuus/Linette Retief   dgCG

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.