On Now
Weekdays 19:00 - 22:00
OFM Nights Ashmund
Show Background
NEXT: 22:00 - 23:59 Overnight with OFM
Listen Live Streams

Central SA

Watertekorte laat Vrystaat steier

───   KAREN VAN DER BERG 08:30 Tue, 12 Dec 2023

Watertekorte laat Vrystaat steier | News Article
Vrystaatse dorpe se inwoners sukkel al jare met watervoorsiening. Argieffoto

“38 dorpe in dié provinsie het geen water nie of beperkte toegang tot water.”

Dit is nie op die oomblik vir mense in die Vrystaat maklik om hier te woon nie.

So sê Michael Landsman van Winburg, waar dele van die dorp 27 dae aaneen geen water gehad het nie of slegs beperkte watertoevoer. Daar was Maandag (12/11) vir die eerste keer water, maar inwoners wonder hoe lank dit gaan hou. Dit was ook nie in alle dele van die dorp nie.

Landsman het verlede week ’n petisie opgetrek en dit gestuur aan rolspelers, onder andere aan pres. Cyril Ramaphosa. Hy het ook gister begin om ’n optog te reël vir inwoners wat nou raadop en keelvol is.

In Winburg was daar Maandag vir die eerste keer in weke weer water. Foto verskaf

Intussen het die VF Plus in die Vrystaat in ’n blitsopname vasgestel 38 dorpe in dié provinsie het geen water nie of beperkte toegang tot water.

Watertekorte is aan die orde van die dag in die Matjhabeng-munisipaliteit, waar sekere gedeeltes van Welkom al maande nie water het nie.

In Parys funksioneer die waterwerke nie optimaal nie en is sommige inwoners al langer as 40 dae sonder water.

Dorpe soos Wepener, Ventersburg, Brandfort, Theunissen, Winburg en Edenville is al vir meer as twee weke sonder water. Ander dorpe soos Koffiefontein en Jagersfontein sukkel ook gereeld met waterprobleme. 

Minister Senzo Mchunu het al op besoek in April 2022 Vrystaatse inwoners belowe dat hy werk sal maak van wateronderbrekings in die provinsie.


“Die watertekorte in die provinsie grens aan ’n humanitêre krisis met talle gemeenskappe wie se grondwetlike reg tot toegang tot water misken word.” Cloete sê hoewel die Vrystaat ’n waterarm provinsie is, is daar geen rede waarom daar nie water in inwoners se krane behoort te wees nie. 

“Water is beskikbaar, maar dit gaan grootliks verlore weens gebrekkige of geen infrastruktuurinstandhouding, swak beplanning en wanbestuur.”

Voorts het die ouditeur-generaal aangedui meer as die helfte van die water wat munisipaliteite aankoop, weens lekkasies en onwettige aansluitings verlore gaan.

Theunissen is een van die dorpe met droë krane, sê Jaco de Jager, ’n inwoner. Die dorp in reeds maande vasgevang in ’n frustrerende kringloop van water en dan weer geen water nie. Op die oomblik is hulle weer op die agtste dag van geen water nie.

In ander dorpe is daar weer kennisgewings ontvang oor watertekorte. Foto verskaf

In ’n kennisgewing wat die Masilonyana-munisipaliteit aan inwoners gestuur het, sê hulle kragprobleme en beurtkrag het die nuwe krisis veroorsaak. “Water sal deurlopend gepomp word en toevoer behoort in die volgende dag herstel te wees.”

OFM Nuus het herhaaldelike navrae aan die munisipaliteit gestuur om uit te vind wat die langtermynplan is. Boodskappe is gelees en nie beantwoord nie.

Navrae is ook gerig aan Mxolisi Dukwana, Vrystaatse premier. Kommentaar sal bygewerk word sodra dit ontvang word.

OFM Nuus/Karen van der Berg CG


@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.