Central SA
Bly só veilig op die pad hierdie feestyd─── HEIDRÈ MALGAS 14:05 Tue, 12 Dec 2023

“Wees proaktief: Trek af om te rus of slaap, of vra iemand by jou met ’n geldige rybewys om die wiel by jou oor te neem.”
Die toename in padverkeer wat gekoppel kan word aan die toestroming van mense wat Kersinkopies doen of na hulle vakansiebestemming vertrek, lei tot ’n groter risiko van ongelukke.
Die handhawing van die spoedgrens kan egter tallose ongelukke voorkom, of dit nou op die oop pad of in beboude gebiede is, sê Peter Dahl, VR MED-mediawoordvoerder en -bemarkingsbestuurder.
Baie mense meen net die bestuurder hoef ’n veiligheidsgordel te gebruik, maar Dahl sê alle passasiers moet hulle vasgordel aangesien ’n veiligheidsgordel werklik lewens kan red.
‘Hou deurgans jou voertuig se hoofligte aangeskakel’
Dit is ook uiters belangrik om nie teksboodskappe in die ry te stuur of te lees nie. Mense moet ophou om hul selfoon te gebruik terwyl hulle bestuur. Indien dit dringend is, parkeer iewers waar dit veilig is.
Dahl sê dis raadsaam om dag en nag jou voertuig se hoofligte aangeskakel te hou om sigbaarheid vir medepadgebruikers te verbeter, en beklemtoon dit as ’n fundamentele aspek van padveiligheid.
Dis ook belangrik om te weet wanneer jy te moeg of vaak is om verder te bestuur. Wees proaktief: Trek af om te rus of slaap, of vra iemand by jou met ’n geldige rybewys om die wiel by jou oor te neem.