On Now
Weekdays 06:00 - 09:00
The Good Morning Breakfast Shandor, Margaret and John
Show Background
NEXT: 09:00 - 12:00 Mid-Morning Magic with Yolanda
Listen Live Streams

Central SA

Drie DA-lede van Mangaung se tugverhoor in nuwe jaar gehou

───   09:52 Thu, 14 Dec 2023

Drie DA-lede van Mangaung se tugverhoor in nuwe jaar gehou | News Article
Drie DA-lede se tugverhoor is vir die nuwe jaar geskeduleer.

“Die drie lede is ingelig oor watter vrae tydens die poligraaftoets hulle nie geslaag het nie.”

Die DA het belangrike lesse geleer uit die skorsing van drie Mangaung-koukuslede, sê Werner Horn, Vrystaatse partyvoorsitter.

“Ons kan nou herfokus op die belange van die gemeenskap insluitend die stryd om basiese dienslewering, sonder om te wonder watter lede vertroulike gesprekke na buite gaan uitlek,” sê hy.

Zaandré Campher. Foto: Facebook

Drie proporsionele lede van die DA – Zaandré Campher, Attie Terblanche en Eddie Rassoeu – is vandeesweek geskors nadat leuenverklikkertoetse getoon het hulle het inligting omtrent ’n koukusvergadering met die media gedeel, waaronder Netwerk24.

“Die drie lede is ingelig oor watter vrae tydens die poligraaftoets hulle nie geslaag het nie. Hangende tugprosesse is ons egter nie van voorneme om dié redes openbaar te maak nie,” sê Horn.

Eddie Rassoeu. Foto: Facebook

Die geskorste lede se optrede kon verreikende gevolge hê, want as lede nie “die verpligting nakom om gesprekvoering en besluitneming vertroulik te hanteer nie”, het dit ’n nadelige uitwerking. “Die koukus is juis veronderstel om ’n veilige ruimte te wees waar mense hul mening kan lug sonder dat dit noodwendig in die openbare domein beland,” verduidelik Horn.

Maar hy is optimisties oor die pad vorentoe. “Ten spyte van die openbare aandag wat die insident trek, sal daar op medium termyn positiewe resultate wees danksy ons hernieude toewyding tot die gemeenskap se belange.”

Attie Terblanche. Foto: Facebook

’n Datum vir die tugverhore is nog nie vasgestel nie. Die proses sal ontvou wanneer partybedrywighede op 8 Januarie hervat. Intussen word Campher, Terblanche en Rassoeu verplig om sekere raadsvergaderings by te woon, hoewel hulle nie namens die DA mag praat nie. Intern is wel reëlings getref dat kollegas en amptenare hul partypolitieke verantwoordelike oorneem.

Hulle voorsien nie groot ontwrigting in hul werksaamhede in die Mangaung-koukus of in die Vrystaat nie, sê Horn.

OFM Nuus/Linette Retief cg/

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.