On Now
Weekends 06:00 - 09:00
Weekend Breakfast Ashmund
Show Background
NEXT: 09:00 - 13:00 The Central SA Top 40 with Laurika
Listen Live Streams

Central SA

Hoogspringer van Potchefstroom verbeter Afrika-rekord

───   KAREN VAN DER BERG 14:00 Thu, 14 Dec 2023

Hoogspringer van Potchefstroom verbeter Afrika-rekord | News Article
Johann Gutsche van Potchefstroom. Foto verskaf

“Om die Afrika-rekord op te stel is vir my so ’n groot voorreg.”

Dit is net genade van Bo, sê ’n Potchefstromer wat onlangs met ’n 1,72 m-sprong die Afrika-rekord vir mans (55–59 jaar) in hoogspring verbeter het.

“Om die Afrika-rekord op te stel is vir my so ’n groot voorreg,” vertel Johann Gutsche (57). “Veral omdat ek in 2012 nie eens kon loop nie weens ’n groot rugbesering. Dokters het destyds vir my gesê ek sou nie weer aan sport kon deelneem nie.”

Dié tandheelkundige het hierdie uitsonderlike prestasie behaal tydens die Afrika-meestersatletiekbyeenkoms op die Pilditch-stadion in Pretoria, toe hy aangewys is as beste mansatleet (veldnommer). Gutsche is derde op die wêreldranglys in sy ouderdomsgroep nadat hy as 21-jarige SA kampioen in dié sportsoort was.

Johann Gutsche van Potchefstroom. Foto verskaf

Sy liefde vir hoogspring het reeds begin toe hy vyf jaar oud was. Hulle het op ’n plaas by Hartbeesfontein gewoon. “Ons het sommer streepsakke geneem en dit vol mielieblare gemaak. Dan het ons ’n lat en ’n dwarslat met riete gemaak en gespring.” 

Op skool was hoogspring altyd sy gunstelingnommer. “Ek het ook later aan tienkamp begin deelneem. Die hoogspring was nog altyd vir my die lekkerste daarvan.” 

Gutsche sê hy bly nog sy hele lewe lank fiks deur verskillende oefeninge te doen. Maar nou gaan hy eers op sy hoogspring konsentreer omdat hy volgende jaar aan die meesterswêreldkampioenskap in Finland wil deelneem.

OFM Nuus/Karen van der Berg cg/mc


@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.