On Now
Weekdays 19:00 - 22:00
OFM Nights Ashmund
Show Background
NEXT: 22:00 - 23:59 Overnight with OFM
Listen Live Streams

Central SA

Aftrede van Bloemfonteinse pediater laat groot leemte

───   ELSABÉ DE JAGER 16:21 Thu, 14 Dec 2023

Aftrede van Bloemfonteinse pediater laat groot leemte | News Article
David en Renette Griessel beplan om te reis, lees en kunstefeeste by te woon. Foto verskaf

Hy beskou kinders se emosies en gevoelens as uniek omdat dit ’n suiwer oorsprong het.

Die werk sal voortgaan, maar niks sal ooit weer dieselfde wees nie.

Dit was die afskeidswoorde van prof. Michael Pienaar aan sy kollega prof. David Griessel toe hy ná langer as twee dekades by die Universiteit van die Vrystaat (UV) die tuig neerlê.

Tallose ouers in Bloemfontein en elders in die Vrystaat het met die jare met hul kroos besoek afgelê by die geliefde dr. David. Aanvanklik het hulle aangeklop by sy praktyk in die destydse Hydromed-hospitaal en sedert 2002 by die departement pediatrie in die Universitas-hospitaal in Bloemfontein.

Griessel het vroeg in sy loopbaan reeds begin belangstel in neonatale intensiewe sorg, perinatale sorg en neuro-ontwikkeling. Dit baan later die weg vir ’n superspesialiteit, dié van ontwikkelingspediater, een van slegs 20 in die land.

Gedurende sy opleiding as ontwikkelingspediater het outisme-spektrumversteurings ’n belangrike ontwikkelings-, opvoedings- en sosiale kwessie geword. Dit het Griessel die geleentheid gebied vir samewerkende navorsings- en opleidingsgeleenthede op die terrein van outisme.

As ontwikkelingspediater beskou hy die emosies en gevoelens van elke kind as uniek. Foto: Freepik

Vir Griessel was dit altyd belangrik om goeie verhoudings met kollegas, op nasionale sowel as internasionale vlak, te bou. So kon hy dienste, wat nie voorheen in die Vrystaat bestaan het nie, implementer en in die behoeftes van kinders met komplekse mediese toestande voorsien. Spanwerk op multidissiplinêre vlak was altyd vir hom van groot belang om die beste uitkoms vir pasiënte te verseker.

Die geliefde pediater beskou kinders se emosies en gevoelens as uniek omdat dit ’n suiwer oorsprong het. Dit spoor hom aan om altyd sy beste vir hulle te gee.

Hy het ’n leidende rol gespeel in die totstandkoming van die Skool vir Outisme in Bloemfontein en is ook betrokke by die vestiging van outisme-spesifieke klasse in hoofstroomskole in Bloemfontein en Kimberley.

Benewens sy superspesialiteit was hy ook kliniese hoof van algemene pediatrie-opleiding en lektor aan die UV. Hy tree op as eksaminator vir die Kolleges van Geneeskunde van Suid-Afrika en beoordelaar van verskeie proefskrifte.

Die outisme-skool in Lourierpark, Bloemfontein, het in 2022 geopen. Foto verskaf

As gesinsman het David met die jare sy liefde vir lees, sy kennis van musiek en sy waardering van kuns bly deel met Renette en hul drie seuns, David, Jaco en Gert.

Vir hom en Renette, ’n afgetrede onderwyseres, hou die toekoms nog vele avonture in. Daar wag opwindende tye saam met hul kinders en kleindogter, asook musiekaande en boekkuiers saam met vriende in ’n sitkamer waar ’n kaggel deur die winter brand.

Reise Karoolangs tot in die Kaap word reeds beplan. Ook sal die spreekkamerdeur van sy privaat praktyk na verwagting nog lank bly oopstaan vir die Vrystaat-kinders vir wie hy so baie omgee.

Hy is immers deesdae ’n pensioentrekker, sê Griessel, maar nog lank nie ’n afgetredene nie!   

OFM Nuus/Elsabé de Jager dg/mc

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.