On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Moord op Spur-bestuurder: ‘Ek het geen vergifnis vir jou nie’

───   15:05 Fri, 15 Dec 2023

Moord op Spur-bestuurder: ‘Ek het geen vergifnis vir jou nie’ | News Article
François Swart is in 2018 koelbloedig doodgeskiet op Lichtenburg. Foto verskaf

“Jy het die misdryf beplan, het geen berou nie en was gevoelloos toe jy iemand se lewe onnodig geneem het.”

“Ek het geen vergifnis vir jou nie … Jy het my seun, my doel om te leef en my vreugde gesteel,” het die ma van ’n jong slagoffer ter strafverswaring gesê voor die streekhof op Lichtenburg sy moordenaar lewenslange tronkstraf opgelê het.

‘Sal ek François Swart, wat jy van my gesteel het, se ma wees?’

François Swart (21) se ma, Kristi Theron, het ná die vonnisoplegging aan die Ethiopiër Abraham Abebe Ergicho (37) gesê sy het 2 328 dae op die dag van afrekening gewag. “Sal ek die persoon wees wat God liefhet, wat jou net vergewe en alles agter my sit? Of sal ek François Swart, wat jy van my gesteel het, se ma wees? Ek is sy ma,” het sy gesê.

Haar seun se moordenaar het ook 15 jaar tronkstraf elk gekry op twee aanklagte van roof met verswarende omstandighede. Die hof het beslis dat hy ongeskik is om ’n vuurwapen te besit.

Abram Ergicho het geen berou getoon oor die koelbloedige moord nie. Foto verskaf

Die vonnis is uitgespreek langer as vyf jaar nadat Ergicho vir Swart op 9 Mei 2018 drie keer in die nek geskiet het. Swart wou saam met ’n vriend koeldrank koop by ’n motorhawewinkel op Lichtenburg.

Toe hulle instap, was Ergicho en ’n medepligtige aan die stry met die kassiere. Oomblikke later het Ergicho ’n vuurwapen uitgepluk, dit op die kassier gerig en toe vir Swart geskiet sonder om ’n woord te sê. Daarna het hy die vuurwapen op Swart se vriend gemik en laasgenoemde se beursie, motorsleutels en motor gesteel. Die voertuig is later naby die gehuggie Verdwaal gevind.

Swart, wat bestuurder was by die Laguna Spur op Lichtenburg, het op 6 Junie 2018 in Chris Hani Baragwanath-hospitaal aan sy beserings beswyk terwyl hy in ’n medies geïnduseerde koma was. Sy liggaam was nie in staat om die funksies van die masjiene oor te neem nie; hy was te swak, het Louis van Rooyen, Swart se stiefpa, ná sy dood gesê.

François Swart was ’n Spur-bestuurder ten tyde van sy dood. Foto verskaf

Ergicho is egter eers op 17 Desember 2020 by ’n taxistaanplek op Lichtenburg deur twee speurders in hegtenis geneem. Hy het vermoedelik ná die voorval gaan skuil op Vryburg, sowat 190 km vanaf Lichtenburg en ook in Noordwes.

‘Jy was gevoelloos toe jy iemand se lewe onnodig neem’

Met verwysing na Ergicho se meedoënlose optrede het landdros Stephan du Toit met staatsaanklaers, adv. ItumelengBoikanyo en adv. Joyce Maseko, saamgestem dat daar geen dwingende omstandighede was om van die voorgeskrewe minimum vonnis van lewenslange tronkstraf af te wyk nie. “Jy het die misdryf beplan, het geen berou nie en was gevoelloos toe jy iemand se lewe onnodig neem,” het hy aan Ergicho gesê.

Dr. Rachel Makhari, direkteur van openbare vervolging, het die vervolgingspan, kapt. Michael Viljoen en ander rolspelers bedank vir hul bydrae tot die inhegtenisneming en vonnisoplegging.

OFM Nuus/Linette Retief

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.