Central SA
Droë Kersfees vir Theunissen ná vandalisme by wateraanleg midde-in betalingsgeskil─── 11:13 Sat, 16 Dec 2023
“Elke stukkie koperkabel is afgesny. Maar dis selfs meer ontstellend dat daar tekens is van blatante vandalisme.”
Nog ’n langdurige wateronderbreking is bes moontlik inwoners van Theunissen in die Sentraal-Vrystaat se voorland nadat die dorp se watersuiweringsaanleg gevandaliseer is.
Die aanleg het Woensdagnag (13/12) onder vandale deurgeloop terwyl die gekontrakteerde sekuriteitsmaatskappy dit onbewaak gelaat het weens beweerde niebetaling deur die Masilonyana-munisipaliteit, wat ook Winburg, Brandfort en Verkeerdevlei insluit.
‘Daar was geen bewyse van ’n polisieondersoek nie’
Die voorval op die plaas Gewin in die distrik Theunissen het tussen Woensdag (13/12) 19:00 en Donderdag 01:30 plaasgevind toe 15 m koperkabel ter waarde van R25 000 gesteel en skade van sowat R2 miljoen aangerig is, sê Stephen Thakeng, Vrystaatse polisiewoordvoerder.
Marietta Visser, DA-raadslid, vertel toe sy en rdl. Willem Potgieter die watersuiweringsaanleg Vrydag (15/12) besoek, het hulle niemand op die terrein aangetref om die omvang van die skade te bepaal nie. “Daar was geen bewyse van ’n polisieondersoek nie. Dit is nie as ’n misdaadtoneel gemerk nie. Bewysstukke met moontlike vingerafdrukke is buite gevind.”

Die watersuiweringsaanleg is Donderdagnag gevandaliseer. Foto verskaf
Dit blyk die skuldiges was goed voorbereid. “Die paal wat die hoofkraglyn dra, is afgesaag en ons het ’n saag op die toneel aangetref. Elke stukkie koperkabel is afgesny. Maar dis selfs meer ontstellend dat daar tekens van blatante vandalisme is.”
Blykbaar het die oortreders geweet hulle sou genoeg tyd hê om die aanleg in so ’n mate te beskadig dat dit lank sal duur en ’n fortuin sal kos om reg te maak, en om watertoevoer na Theunissen se 23 000 inwoners te herstel, sê Visser.
“Ons hoop net die plaaslike owerheid sal maatreëls tref om deeglik ondersoek in te stel hoe en waarom die gemeenskap van Masilonyana voortdurend moet ly en basiese menseregte tot water en veiligheid ontsê word.

Die kragpaal op die terrein is morsaf gesaag. Foto verskaf
“Eers wanneer ons weet wie baat vind by hierdie dade en wie nalaat om voorsorgmaatreëls te tref om verliese te voorkom, kan ons enigsins begin om ’n gesonde, veilige omgewing te bou kragtens die Grondwet.”
Die polisie vra enigeen met inligting wat in hul ondersoek kan help, moet sp.sers. Nnana Thekiso van Theunissen se speurtak bel by 082 301 3028 of Stop Misdaad by 08600 10111.
OFM Nuus het navrae aan munisipaliteit gerig.
