Central SA
Afrika se hoogste Kersboom pryk hoog bo Hartbeespoort─── ZENANDE MPAME 11:23 Mon, 18 Dec 2023
“Hierdie monumentale boom oorskadu alle vorige feestelike middelpunte op die vasteland.”
Die Kersboom, genaamd die Baken van Hoop, is opgerig in Hartbeespoort voor GST se hoofkantoor. Die boom is op Vrydag 8 Desember vir die eerste keer aangeskakel, en die stringe liggies is lank genoeg om ’n 5 km-parkrun te verlig.
“Die helder verligte boom dien as ’n herinnering, en dit skyn hoop tot in die hart van ons mense. Hierdie monumentale prestasie is nie net ’n viering van die feestyd nie, maar ’n bewys van die gees wat ons almal saamsnoer,” sê Walter Gähler van GST se bemarkingsafdeling.

Die 3 m hoë ster bo-op die Kersboom. Foto verskaf
“Die trots wat ons gevoel het toe ons hierdie monumentale boom onthul, was net wonderlik. Om te sien hoe dit vir die eerste keer verlig word, was werklik skouspelagtig. Om te weet dat ons die grootste Kersboom in die hele Afrika gebou het, vul ons hart met hoop.”
Die manjifieke ontwerp, wat ’n merkwaardige hoogte van meer as 38 m reik tot by die 3 m hoë ster bo-op, is oortrek van meer as 5 000 m ligte.

Die boom het meer as 5 000 m se ligte. Foto verskaf
“Ons was van plan om die hoogste boom in Afrika te bou en het die Afrika-rekord op die koop toe verpletter. Die boom het intussen ’n trekpleister vir besoekers van heinde en ver geword. En om mense se reaksie te hoor wanneer hulle langsaan staan, gee ’n mens so ’n warm gevoel,” vertel Gähler.
“Hierdie ontsagwekkende skepping simboliseer vir ons ’n nuwe hoofstuk, ’n vergestalting van die potensiaal en eenheid van ons land en die vasteland.”
