Central SA
Samewerking gevra vir veiliger feestyd op Noordwes-paaie─── 14:40 Mon, 18 Dec 2023
“Ons teiken is om minder sterftes te hê en te verbeter vanaf verlede jaar se syfers.”
Padgebruikers word gevra om hierdie Kerstyd te help om lewensverlies op Noordwes se paaie te help voorkom deur hulle eie en medepadgebruikers se veiligheid in gedagte te hou.
Sello Lehari, LUR vir gemeenskapsveiligheid en vervoerbestuur, het vandag ’n gesamentlike feestydoptrede in die hoofstad, Mahikeng, gelei waar hy inligtingspamflette aan motoriste uitgedeel het. Die departement sal die hele maand lank voortgaan met bedrywighede en monitering om ongelukke te voorkom en padsterftes te verhoed.
“Ons teiken is om minder sterftes te hê en te verbeter vanaf verlede jaar se syfers,” sê Lehari. “Ons vernaamste verantwoordelikheid is om mense se lewe te beveilig, en dit kan bereik word as hulle ook ’n rol speel. Veiligheid is ’n spanpoging, en elke burger moet sy of haar deel doen.”
Die polisie het aan die optrede in Mahikeng deelgeneem. Foto verskaf
In sy begrotingsrede vanjaar het Lehari aangedui dat die departement 30 kragtige nuwe voertuie gaan aankoop om die tekort aan voertuie aan te vul en sigbaarheid op groot paaie in die provinsie te verbeter.
Die nuwe spesialiseenheid, die Arende, sal dag en nag veral die N4, N12, N14 en N18 met die kragtige nuwe voertuie patroleer wat toegerus is met beter tegnologie. Motorkapings op die N4 na Sun City en Pilanesberg sal aandag geniet, asook die toename in die gebruik van spykers op paaie in die Brits-omgewing om motoriste te dwing om stil te hou sodat hulle beroof en hul voertuig gekaap kan word.
Hulle sal hard werk om ’n veiliger feestyd te verseker en padgebruikers met sorg en waardigheid te dien, maar sonder enige gunste of gawes, sê Paul Stone, direkteur vir Padverkeersbestuur.
‘Die polisie sal hard werk om ’n veiliger feestyd te verseker’
Motoriste en langafstandbestuurders word aangemoedig om minstens elke twee uur of 200 km af te trek en te rus.
