Central SA
Oliewenhuis-uitstalling vier Versoeningsdag met verenigende versameling kunswerke─── HEIDRÈ MALGAS 10:34 Tue, 19 Dec 2023
“Terwyl ons Suid-Afrika se pynlike geskiedenis erken, beoog die uitstalling ook om die voortdurende proses van herstel, asook die essensie van eenheid en vrede, uit te beeld.”
Die Oliewenhuis-kunsmuseum bied ’n uitstalling aan om Versoeningsdag te vier, met geselekteerde kunswerke uit die permanente versameling van die museum en die Kunsmuseum van Suid-Afrika.
Personeellede van die museum en ArtbankSA het elkeen ’n kunswerk gekies wat persoonlike betekenis het in verband met die konsep van versoening, sê Ester le Roux, kurator van Oliewenhuis.
Die uitstalling, “Moving Forward: Restoration, Unity and Peace”, omvat ’n verskeidenheid kunswerke wat verskillende perspektiewe en emosies in verband met die tema weerspieël.

OIiewenhuis het Versoeningsdag op ’n persoonlike wyse gevier. Foto: Facebook
“Terwyl ons Suid-Afrika se pynlike geskiedenis erken, beoog die uitstalling ook om die voortdurende proses van herstel, asook die essensie van eenheid en vrede, uit te beeld,” sê sy
Baie van die kunswerke verken die gemeenskaplikhede wat ons as mense saambind. Elke werk word vergesel van ’n foto van die personeellid, tesame met ’n bondige verduideliking van hoekom hulle daardie bepaalde stuk gekies het om inklusiwiteit te bevorder en ’n platform vir alle personeel te bied om hulself uit te druk.

Eenheid in verskeidenheid by Oliewenhuis op Versoeningsdag. Foto: Facebook
Natley Barnado, waarnemende opvoedingsbeampte, het die uitstalling in samewerking met Le Roux saamgestel, met insette en ondersteuning van die hele personeel.
Besoekers kan dit tot 3 Maart kom beleef in die Oliewenhuis-kunsmuseum, Harry Smithstraat 16, Bloemfontein. Die museum verwelkom besoekers van Maandag tot Vrydag tussen 08:00 en 17:00, asook op Saterdae, Sondae en openbare vakansiedae van 09:00 tot 16:00.
OFM Nuus/Heidrè Malgas dg
