Central SA
Nuwe voertuie versterk Noord-Kaap se gesondheidsdienste dié Kerstyd─── KEKELETSO MOSEBETSI 11:35 Tue, 19 Dec 2023
“Ons kan rekenskap gee dat ons die afgelope drie en half jaar sowat 150 ambulanse in gebruik geneem het. Dit kom neer op sowat 40 ambulanse elke jaar.”
Die Noord-Kaapse regering het nog voertuie by sy gesondheidvloot gevoeg om sy noodvlootkapasiteit vir die feestyd te versterk.
Premier Zamani Saul het saam met Maruping Lekwene, LUR vir gesondheid, Maandag (18/12) 15 ambulanse en sewe forensiese voertuie in ontvangs geneem by die gesondheidsdepartement se kantoor by Memorialweg 36, Kimberley. Dit is die jongste besending nuwe voertuie nadat meer as 100 die afgelope drie jaar aan die departement oorhandig is.
“Toe ons as die sesde administrasie in 2019 begin het, het ons gesê een van ons fokusareas is om die gehalte van openbare gesondheid te verbeter en een van die eerste projek wat ek van stapel gestuur het, was 23 ambulanse,” sê Saul.

Die Noord-Kaap spog met nuwe forensiese voertuie en ambulanse. Foto: Facebook
“Ons kan rekenskap gee dat ons die afgelope drie en half jaar sowat 150 ambulanse in gebruik geneem het. Dit kom neer op sowat 40 ambulanse elke jaar.”
In Junie 2023 het Saul die bekendstelling van 20 nuwe ambulanse en tien nuwe voertuie vir die vervoer van pasiënte waargeneem. Hy het gesê die nuwe toevoegings tot die vloot sal die reaksie op noodgevalle verbeter, veral gedurende die feestyd.
Die ambulanse en forensiese voertuie sal ontplooi word deur die uitgestrekte provinsie, wat gereeld onder skoot kom oor stadige reaksie op pasiëntoproepe. Lekwene het al erken dat die gesondheidsdepartement uitdagings het soos ’n tekort aan personeel, ambulanse en ou infrastruktuur.
OFM Nuus/ Kekeletso Mosebetsi dg
