Central SA
Veiliger feestyd: So maak mens tydens ’n kontantrooftog─── 08:00 Tue, 26 Dec 2023
“Wanneer jy ’n kaping of grypaanval sien, moenie uit jou voertuig klim om die slagoffer te probeer help nie. Niemand is vinniger as ’n koeël nie.”
Kontantrooftogte het die laaste klompie jare ’n algemene verskynsel op Suid-Afrikaanse paaie geword. Die gepaardgaande lewens- en geldelike verlies laat almal van wetstoepassers tot gewone burgers met die hande in hare, maar jy is nie hulpeloos nie.
Hier is ’n riglyne wat jy kan volg om die polisie en moontlik die transitomaatskappy te help sonder om jouself in gevaar te stel:
- ’n Mens se eerste reaksie is moontlik om op die toneel stil te hou en foto’s of video’s met jou selfoon te neem, maar moet dit onder geen omstandighede doen nie.
- Moenie jouself in gevaar stel deur in die kruisvuur tussen misdadigers en polisie te beland of deur aangeval te word deur misdadigers wat dalk naby jou wegkruip en irrasioneel reageer wanneer hulle sien jy neem ’n video nie.
- Plaas soveel afstand moontlik tussen jou voertuig en die misdaadtoneel. Moenie uit jou voertuig klim nie. Indien moontlik, draai om en ry weg.
- As jy nie kan wegry nie, lê laer as die instrumentpaneel om jouself te beskerm indien nog skote afgevuur word.
- Die verstandigste opsie is om die gebied te ontruim sonder om jouself of ander in gevaar te stel.
- As jy nie die gebied kan verlaat nie, bly kalm.
- Die oortreders is dikwels gewapen en gevaarlik; moet hulle dus onder geen omstandighede nader nie.
- Bel dadelik die polisie by 08600 10111 en meld die misdaad aan. Maak seker jy verskaf akkurate inligting sodat hulle dienooreenkomstig kan reageer.
- As jy die transitomaatskappy kan identifiseer, kan jy ook hul nasionale beheerkamer bel om die insident te rapporteer sodat hulle mediese en operasionele bystand kan reël.
- Moenie jou voertuig afskakel nie ingeval jy van die toneel af moet ontsnap.
- As jy nie kan wegkom nie, wees bewus van wat in en om jou voertuig aangaan. Sluit alle deure en wag dat nooddienste en wetstoepassers opdaag.
- Let noukeurig op na die misdadigers en ’n ontsnappingsvoertuig of -voertuie, asook enige inligting wat kan help in die ondersoek.
- Moenie uit nuuskierigheid rondhang om te kyk wat verder gebeur nie. Dis gevaarlik.
- Moenie enige videomateriaal op sosiale media plaas nie. Oorhandig enige beeldmateriaal in jou besit aan die polisie en/of die transitomaatskappy om hulle met hul ondersoek te help.
OFM Nuus dg
