Central SA
Vleispryse: Hoender steeds duur, vark goedkoper─── 05:00 Wed, 20 Dec 2023

Verbruikers, wat beplan het om die Kersfees hoender voor te sit, moet dalk hul spyskaart heroorweeg.
Die prys van hierdie pluimvee het weereens die afgelope week gestyg, aangedryf deur beter vraag, asook hoër invoerpryse. Die prys van bevrore hoendervleis styg tot R38,66/kg, en vars hoender tot R38,89/kg, met IQF wat nou op R34,37/kg staan.
“Afgesien van die wisselkoers en invoerprysbewegings sien ons nie veel verdere opwaartse prysbewegings op kort termyn nie, en van Januarie af kan ons weer moontlik laer pryse in die markte verwag,” sê Johnny van der Merwe, landbou-ekonoom aan die Noordwes-Universiteit.
Goeie nuus vir liefhebbers van varkvleis is dat spekvark gedaal het tot R34,06/kg en vleisvark tot R34,44/kg. Worsvarkpryse het afgeneem tot R25,38/kg. Dié prysvlakke kan moontlik gehandhaaf word tot aan die einde van die jaar, sê Van der Merwe, maar kan begin 2024 selfs verder terugsak.
Kleinbokpryse het verlede week gedaal tot R51,33/kg, terwyl groot bokke staan op R49,16/kg, en bokooipryse 12% laer op R34,40/kg.
OFM Agri dg