On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

25 merkwaardige olieverfskilderye van Frans Claerhout in Bloemfontein te sien

───   HEIDRÈ MALGAS 11:05 Thu, 21 Dec 2023

25 merkwaardige olieverfskilderye van Frans Claerhout in Bloemfontein te sien | News Article
Vader Frans Claerhout se versameling van 25 olieverfskilderye, getiteld “Christ and the other person”, word tot 18 Februarie in die Oliewenhuis-kunsmuseum uitgestal. Foto verskaf

“Hy het die hart van alle mense geroer en in hierdie reeks is ’n paar van hierdie mense.”

Vader Frans Claerhout se versameling van 25 olieverfskilderye, getiteld “Christ and the other person”, word tot 18 Februarie in die Oliewenhuis-kunsmuseum uitgestal.

Die skilder is in 1919 in Pitten, België, gebore en het in 1946 ná voltooiing van sy priesteropleiding na Suid-Afrika gekom, sê Ester Le Roux, kurator van Oliewenhuis. “Hy het as ’n Katolieke priester en sendeling in Thaba Nchu, naby Bloemfontein, gedien.

Vader Frans Claerhout. Foto verskaf

“Claerhout was ’n stigterslid van die Bloemfontein-groep en was betrokke by verskeie groepuitstallings, terwyl hy in 1961 sy eerste solo-uitstalling in Johannesburg gehou het.”

Benewens sy eie artistieke strewe het hy ’n betekenisvolle rol gespeel in die kweek van plaaslike talent, onder wie kunstenaars soos Albert Dasheka, John Tladi, Micheal Mosala, en George Ramagaga, wat verteenwoordig word in Oliewenhuis se permanente versameling.

“Die selfopgeleide olieverfskilder sonder formele opleiding het uit ’n kunstige gesin gekom. Hy het hoofsaaklik individue, tonele van die sendingstasies waar hy gewerk het en godsdienstige onderwerpe op doek verewig, met ’n kenmerkende, uitdrukkingsvolle styl,” sê Le Roux.

Een van Vader Frans Claerhout se skilderye in die 'Christ and the other person' reeks. Foto verskaf

Hy is opdrag gegee om verskeie muurskilderye by sendingstasies oor Suid-Afrika heen te skep, waaronder Bloemfontein, Schweitzer-Reineke, Thaba Nchu, Potchefstroom en Witsieshoek.

Vader Claerhout is in 2006 in die ouderdom van 87 oorlede.  Le Roux vertel Claerhout het “Christ and the other person” beskryf as is ’n meditasie van Christus en mense. “Wat Christus is, het hy gesê, kan nie deur navorsing deur die menslike verstand gevind word nie. Hy was MENS – met en vir die mens.

“Ek voel ek weet nie veel van hom nie, maar wat ek weet en voel, dit hou ek van. Geloof is om heerlik onvolwasse te wees, vol verwagting. Christus is dieselfde in al sy ontmoetings met mense, maar elke keer anders. ’n Man vir alle seisoene.

“Hy het die hart van alle mense geroer en in hierdie reeks is ’n paar van hierdie mense. Ek hoop dat, met verwysing na die Evangelietekste, die 25 skilderye ons liefde en groei sal bring. Die laaste prent is die geheim van geloof: Christus alleen. Wie is die ander persoon, ek, jy, ons?," het Claerhout gese.

Oliewenhuis-kunsmuseum is geleë in Harry Smithstraat 16, Bloemfontein, en is oop vir die publiek van Maandag tot Vrydag van 08:00 tot 17:00, en op Saterdae, Sondae en openbare vakansiedae van 09:00 tot 16:00.

OFM Nuus dg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.