Central SA
Klerksdorp: Verwaarloosde kinders kan weer glimlag─── KAREN VAN DER BERG 12:15 Fri, 22 Dec 2023
"Die kinders was erg verwaarloos en so vuil dat hulle met eerste oogopslag vir poppe aangesien is."
Daar breek elke nou en dan ’n glimlag deur op hul gesiggies. Hulle is al drie rustig, speel met ander kinders van hul ouderdom en kry alles wat hulle nodig het.
So vertel Wayne van Onselen, stigter en besturende direkteur van die organisasie, Unchain our Children, wat die afgelope weke betrokke was om die kinders uit haglike omstadighede uit ’n huis in Klerksdorp te red. ’n Bekommerde inwoner het die owerhede sowat drie weke gelede van die kinders se omstandighede in kennis gestel.
Die nuus van die twee meisies (nege maande en drie jaar) en hul tweejarige boetie het die land met afgryse gevul. Die kinders was erg verwaarloos en so vuil dat hulle met eerste oogopslag vir poppe aangesien is. Dit was eers toe hulle beweeg het, wat mense op die toneel besef het dit is kinders op die bank. Die twee meisies is verkrag en daar was ook geen kos in die huis nie.
‘Die kinders is in ’n plek van veiligheid’
Van Onselen sê die kinders is in ’n vakansieskool in ’n plek van veiligheid. “Hulle is regtig op ’n goeie plek waar hulle oorval word met liefde en ondersteuning. Hulle kan nou kind wees. Hulle sterk goed aan.
Die pad vorentoe vir hulle word nou bepaal deur ’n span maatskaplike werkers, die ondersoekbeampte, en ook die howe.
Die kinders se ouers het Dinsdag in die landdroshof in Klerksdorp verskyn. Borgtog is nie aan hulle toegestaan nie en hulle verskyn weer in Februarie op aanklag van kinderverwaarlosing en verkragting.
‘Hul ouers het Dinsdag in die landdroshof verskyn’
Van Onselen sê hulle kry deur die jaar met verskeie soortgelyke voorvalle te doen. Hy doen ’n beroep op mense en veral die korporatiewe wêreld om betrokke te raak en organisasies sonder winsbejag te ondersteun. “Dit wat ons doen, kom uit ons hart uit en ons wil graag soveel mense as moontlik probeer help wat in haglike omstadighede bly.”
