Central SA
Lodge-werker van Swartruggens vas wat glo bokke slag, goedere steel─── 17:03 Tue, 26 Dec 2023
“Hy het na bewering heimlik teruggekeer na sy gewese werkplek en sy klere geneem asook ’n vrieskas, kroegkoelkas, twee fietse, ’n kragopwekker en ’n voertuig – en twee bokke, wat hy geslag het.”
’n Werknemer van ’n wildlodge in Noordwes is met ’n vrag goedere aangekeer wat hy na bewering by sy gewese werknemer gaan steel het kort nadat hy bedank het.
Die verdagte (23) kom na verwagting Woensdag (27/12) voor in die Bafokeng-landdroshof in Tlhabane vir die besit van vermoedelik gesteelde goedere, verset teen inhegtenisneming en aanklagte wat verband hou met oortreding van die Immigrasiewet.

Die ekswerknemer is betrap met onder andere twee bokkarkasse en die voertuig wat hy na bewering gesteel het. Foto verskaf
Hy is Vrydag (22/12) buite Rustenburg in hegtenis geneem, twee dae nadat hy bedank het ná ’n uitval met sy senior bestuurder by ’n wildlodge buite Swartruggens. Hy het na bewering heimlik teruggekeer na sy gewese werkplek en sy klere geneem asook onder andere ’n vrieskas, kroegkoelkas, twee fietse, ’n kragopwekker en ’n voertuig, en twee bokke geslag.
Die lodge-eienaar het die polisie gebel nadat hy van die diefstal bewus geword het. Nie lank daarna nie is die voertuig verlate by Boshoek aangetref.
‘Hy is betrap in die besit van sommige van die gesteelde items’
Die verdagte is by sy woonplek in die nedersetting Lefaragatlha, naby Tlhabane, opgespoor, waar hy betrap is in die besit van sommige van die gesteelde items, onder andere die bokkarkasse.
Ná sy vlugtige hofverskyning in die plaaslike landdroshof sal hy na verwagting na Swartruggens oorgeplaas word waar hy tereg sal staan op aanklagte van huisbraak, veediefstal en die diefstal van ’n motorvoertuig.
Lt.genl. Sello Kwena, Noordwes-polisiekommissaris, loof Swartruggens se speurtak, die honde-eenhede van Phokeng en Hartbeespoortdam asook Madikwe se veediefstaleenheid vir hul flinke optrede wat tot die verdagte se inhegtenisneming gelei het, sê lt.kol. Amanda Funani, polisiewoordvoerder.
