Central SA
2 vriende verdrink in draaikolk by Upington─── 11:09 Thu, 28 Dec 2023
“Twee groot geboude, gesonde, volwasse mans wat goed kon swem, het hul lewe verloor.”
Die liggame van twee vriende wat Vrydag (22/12) saam in die Oranjerivier verdrink het, is deur die polisie se honde-soek-en-reddingseenheid naby Upington uitgehaal.
Omphile Masegela, polisiewoordvoerder in die Noord-Kaap, sê dit blyk een man het in ’n draaikolk in die rivier beland terwyl hy geswem het. “Sy vriend het ingeduik om hom te help, waarna albei onder die water verdwyn en verdrink het.”
Een van die mans, Godfrey van Vuuren, se skoonpa, Solly van der Berg, sê in ’n Facebook-plasing dat “twee groot geboude, gesonde, volwasse mans wat goed kon swem, hul lewe in ’n draaikolk in die rivier verloor het”.
‘Gebruik eerder munisipale swembaddens om tragedies te voorkom’
Hy waarsku mense om nie hul kinders toe te laat om in die “magtige” Oranjerivier lafenis teen die hitte te soek nie. “Maak liewer gebruik van die munisipale swembaddens om soortgelyke tragedies te voorkom.”
Die twee vriende het verdrink voor Godfrey se tienjarige seun en sy vriend se vrou. Die vriend se naam is nog nie bekend gemaak nie.
’n Geregtelike doodsondersoek is begin. Die Noord-Kaapse regering het mense versoek om nie in gevaarlike waters, insluitend riviere en kanale, te swem nie.
OFM Nuus dg
