Central SA
Botsing in lug bo Carletonville eis drie lewens─── 08:52 Sat, 30 Dec 2023

Albei vliegtuie is heeltemal in die botsing vernietig.
Drie mense is dood toe twee ligte vliegtuie Donderdag (28/12) in die lug bo Carletonville gebots het.
Die oorledenes is die egpaar Casper en Estelle Botha, mielieboere van Venterdorp wat in ’n Cessna 182-vliegtuig gevlieg het, en Hennie Viviers (63), wat in ’n Air Tractor-spuitvliegtuig gevlieg het.
Volgens ’n inskrywing op die webwerf van Aviation Safety Network het die Bothas langs Viviers gevlieg sodat Estelle foto’s van die spuitvliegtuig kon neem. Albei vliegtuie het laag gevlieg.
Die een vliegtuig het teen die ander gebots, en weens die skade en verlies aan beheer, ook omdat hulle so laag was, het albei vliegtuie neergestort.
Casper en Estelle Botha. Foto: Tian du Preez
Maroela Media berig die Burgerlugvaartowerheid (BLO) se eenheid gemoeid met ongelukke en voorvalle het 'n ondersoek na die botsing begin. Lede van die BLO het bewyse op die toneel versamel om die omvang en oorsaak van die ongeluk te bepaal. Albei vliegtuie is heeltemal in die botsing vernietig.
Hennie Viviers. Foto: Facebook
Die Botha-egpaar was die eienaars van die Castello-boerdery tussen Ventersdorp en Potchefstroom en laat drie volwasse seuns agter. Viviers is van Kroonstad en het spuitwerk vir die Bothas gedoen.
Luidens ’n berig deur The Citizen het die ongeluk omstreeks 12:30 op ’n plaas naby die R500 by die Holfontein-kruising tussen Carletonville en Magaliesburg gebeur. Boere van die omgewing het langs die pad gewag om die nooddienste na die ongelukstoneel te neem.
OFM Nuus