Central SA
Ouers kry miljoene ná baba in Bloemfontein-hospitaal sterf─── 11:31 Sat, 30 Dec 2023

Die ma het getuig dat sy twee keer haar eie lewe probeer neem het.
’n Ouerpaar wie se eerstelingbaba tien jaar gelede kort ná sy geboorte in die Pelonomi-hospitaal weens nalatigheid deur die gesondheidspersoneel dood is, is skadevergoeding van onderskeidelik R5,1 miljoen (aan die ma) en R400 000 (aan die pa) toegestaan. Dit moet deur Vrystaatse Departement van Gesondheid betaal word.
Die Hooggeregshof in Bloemfontein het kort voor Kersfees beslis dat die hospitaal nalatig was en aanspreeklik gehou moet word, berig Maroela Media. Waarnemende regter Nompumelelo Gusha het in haar uitspraak op 19 Desember gesê die ma is van “al die vreugde en liefde ontneem”.
'Die moeder is van al die vreugde en liefde ontneem'
“Daar is inderdaad geen groter liefde en seën as om nuwe lewe in hierdie wêreld te bring en daardie lewe te koester en lief te hê nie. Maar dié moeder, wat by tye ontroosbaar gehuil het terwyl sy getuienis in die hof moes lewer, is van al die vreugde en liefde ontneem.”
Op 2 Augustus 2013 is die swanger ma na haar plaaslike kliniek waar hoë bloeddruk by haar gediagnoseer is en sy na Pelonomi verwys is. Hier het sy gehoor sy is in kraam, maar is daarna sonder enige mediese toesig gelaat. Die volgende middag is sy geïnduseer en voorberei vir 'n noodkeisersnee, maar nie teater toe geneem nie.
Haar babaseun het later deur middel van 'n natuurlike geboorte in die lewe gekom nadat personeel 'n hirurgiese insnyding moes maak. Die baba is hierna weggeneem. Hy het breinskade opgedoen en het twee dae later gesterf.
'Die pa is nie die geleentheid gegee om sy kind te sien nie'
Die pa is nie kans gegun om sy kind te sien nie omdat hy al sy aandag op die ma se behandeling moes vestig. Sy is ná die geboorte sonder mediese toesig gelaat en het bloeiend op 'n draagbaar in een van die hospitaalgange gelê.
Haar man het weerstand van die hospitaal se veiligheidswagte gekry toe hy om hulp geroep het.
Sy vrou is na die Universitas- akademiese hospitaal in Bloemfontein oorgeplaas en eers op 19 Augustus ontslaan, ná haar baba se begrafnis.
In haar uitspraak het regter Gusha gesê om na die moeder se getuienis te luister was een van die “moeilikste en pynlikste ervarings” in haar loopbaan was. “Geen mens moet ooit die behandeling kry waaraan sy onderwerp is nie.”
'Sy het hom nie weer lewend gesien nie'
In haar getuienis het die ma emosioneel vertel hoe sy haar seuntjie slegs vir 'n paar oomblikke in haar arms kon hou voordat hy weggeneem is. Sy het hom nie weer lewend gesien nie.
Weens haar behandeling in die Pelonomi-hospitaal het sy vir drie jaar aan swaar bloeding gely. Sy het ook depressief geword, gereeld paniekaanvalle gekry en antisosiaal begin optree. Sy het getuig dat sy twee keer haar eie lewe probeer neem het.
Die departement het nie die ouers se eis teengestaan nie, en het ook nie in hul eie verweer getuig nie. Die ma het skadevergoeding van sowat R9,6 miljoen geëis terwyl die pa R700 000 geëis het. Regter Gusha het beveel dat skadevergoeding van R5,1 miljoen aan die ma en R400 000 aan die pa betaal moet word.
OFM Nuus