Central SA
Wakker Noordwes-polisie vind onwettige vuurwapen, ammunisie─── 11:35 Sun, 31 Dec 2023
Twee verdagtes met sakke by hulle is om 04:10 in Steve Bikostraat, Potchefstroom opgemerk.
Die polisie in Klerksdorp en Potchefstroom het in drie afsonderlike voorvalle vier verdagtes in hegtenis geneem vir die onwettige besit van 'n vuurwapen en ammunisie.
Beamptes van ’n privaat veiligheidsdiens van Potchefstroom het Vrydag (29/12) omstreeks 04:10 twee verdagtes met sakke by hulle in Steve Bikostraat opgemerk. By nadere ondersoek is R1- en 9 mm-kaliber ammunisie gevind, asook kragproppe, rookpype en ander goedere.
“Die twee verdagtes van 43 en 25 jaar is deur die polisie in hegtenis geneem vir die besit van vermoedelik gesteelde eiendom en ammunisie en sal na verwagting Dinsdag 2 Januarie in die Potchefstroomse landdroshof verskyn,” sê kapt. Sam Tselanyane, polisiewoordvoerder.
In ’n ander voorval Vrydag (29/12) in Potchefstroom was die polisie besig met patrolliewerk toe hulle 'n man (29) by 'n huis in Thabo Mbekistraat in hegtenis geneem het. Die polisie het tydens ’n soektog vier 9 mm-kaliber ammunisie in 'n sak gevind. Die man is in hegtenis geneem nadat hy nie kon verduidelik waarom hy die ammunisie in sy besit gehad het nie. Hy sal na verwagting ook Dinsdag in die hof verskyn.
In die ’n vroeëre voorval het die polisie in Jouberton naby Klerksdorp Woensdag (27/12) 'n Lesothoburger (32) in hegtenis geneem vir die onwettige besit van ’n vuurwapen en ammunisie. Die polisie het inligting wat hulle ontvang het, opgevolg wat hulle na 'n huis in Jouberton gelei het.
“’Die huis is deursoek en die polisie het die verdagte in hegtenis geneem nadat 'n onwettige vuurwapen by hom gevind is. Hy het Donderdag in die Klerksdorp-landdroshof verskyn. Hy bly in aanhouding totdat hy op Vrydag 5 Januarie vir borgtog kan aansoek doen.”
OFM Nuus
