Central SA
Noord-Kaapse boer verloor 130 skape in haelstorm─── 10:38 Mon, 01 Jan 2024
“Vandag het ek soos Wolraad Woltemade gevoel.”
Urbanus Botha, wie se plaas tussen Britstown en Strydenburg geleë is, het 130 skape in ’n haelstorm verloor “en dit was maar net dié by die huis en twee kampe”.
Ander vee, wilde diere en voëls is ook doodgeslaan en groot skade is aan weiding, geboue en voertuie aangerig, berig Landbouweekblad.
“Die beproewing kom wanneer dit waarvoor mens so lank bid in 'n oogwink alles wat oor jare opgebou is, kom wegvat,” sê Bota in ’n roerende inskrywing op Facebook.
‘Hoe maak ons verder vorentoe’
“Waar begin mens opruim? Wat is die belangrikste om te red? Hoe maak ons verder vorentoe?” vra hy. “Die diere het hul doodskrete orals oor die plaas geuiter. Vandag het ek soos Wolraad Woltemade gevoel om die paar lewendige diere een vir een uit die water na skuiling te sleep.
“Elke boom wat hoeveel jaar al staan, staan kaal asof dit winter is. Nie 'n blaartjie in sig nie. Dan wonder mens hoe die Karoobossies hierdie haelstorm gaan oorleef en hoeveel diere oor sal wees wat daai einste bossies gaan nodig hê.”
OFM Nuus dg
